tematiese kartering — Afrikaans

’n Grafiese voorstelling wat die ruimtelike variasiepatroon (kyk “spatial distribution” en “spatial pattern”) van ’n spesifieke objek, toestand, verskynsel, probleem of enige ander veranderlike beskryf. Die doel van ’n tematiese kaart is om die verspreiding van een spesifieke veranderlike te beskryf, gevolglik bevat dit minder inligting oor enige onverwante veranderlikes. Die aard van die veranderlike wat gekarteer word, bepaal of daar stippels, lyne of kolle (patches) gebruik moet word. Indien die veranderlike wat gekarteer word, die globale verspreiding van aktiewe vulkane is, sal stippels die ideale kaartteken wees. As die tema die verspreiding van reënval is, sal isolyne (isohiëte is lyne wat punte wat eweveel reënval ontvang, verbind) gebruik word. Kolle en lyne sal gebruik word op ’n tematiese kaart van die nasionale parke en bewaringsgebiede in Suid-Afrika, met die kolle wat die parke, dit wil sê die tema van die kaart, verteenwoordig of uitbeeld en die lyne wat die paaie na hulle (die “kolle”) voorstel.