volhoubare lewenstyl — Afrikaans

’n Lewenstyl wat op ’n regverdige en regmatige wyse in die basiese behoeftes van die huidige samelewing voorsien sonder om die toekomstige geslagte se vermoë om dieselfde te doen, in gevaar te stel. Die belangrike aspek is dat behoefte, nie gulsigheid, gierigheid en hebsug nie, die kern van hierdie lewenstyl vorm. ’n Volhoubare lewenstyl vereis dat baie samelewings ’n totaal ander lewensuitkyk sal moet aanneem. Sekere welvarende samelewings sal ’n lewenstyl wat hulle meer geniet terwyl hulle minder verbruik, moet aanneem. ’n Meer eenvoudige lewenstyl beteken glad nie ’n minder bevredigende een nie. Minder gegoede gemeenskappe moet ondersteun word om ’n meer menswaardige, bevredigende lewenstyl te geniet sonder om omgewingsdegradasie te veroorsaak. Mense moet nie vanweë armoede verplig wees om die omgewing uit te buit en te degradeer bloot om ’n karige bestaan te maak nie. Dit is wys om Mahatma Mohandas Gandhi se beginsel van genoegsaamheid (principle of enoughness) te onthou: “Die Aarde voorsien genoeg om elke persoon se behoeftes te bevredig, maar nie genoeg om elke persoon se hebsug te bevredig nie. Wanneer ons meer neem as wat ons nodig het, neem ons eenvoudig ’n andere se porsie, of leen dit by die toekoms, of vernietig die omgewing en ander spesies.”