volhoubaarheid — Afrikaans
Die vermoë van ’n sisteem om voort te bestaan ten spyte van kragte wat die sisteem kan vernietig. In geografie, omgewingsbestuur en verwante wetenskappe word die term gewoonlik gebruik in verband met die voortbestaan van ’n ekosisteem (kyk “ecosystem”) wat deur natuurlike of mensgemaakte (antropogene) veranderings bedreig word. Natuurlike veranderingsprosesse vind normaalweg stadig plaas en die sisteem het genoeg tyd om by die veranderde omstandighede aan te pas. Menslike aktiwiteite vereis egter vinnige aanpassings waartoe die natuur nie instaat is nie en gevolglik stort die ekosisteme ineen. In geografie en omgewingsbestuur is dit byna onmoontlik om die konsep van volhoubaarheid van dié van ontwikkeling te skei. Volhoubare ontwikkeling is die grondliggende oogmerk van omgewingsbestuur (kyk “sustainable development”).