SOB, strategiese omgewingsassessering/bepaling — Afrikaans
Sedert besorgdheid oor die omgewing een van die belangrikste dryfvere in besluitneming op internasionale, nasionale en plaaslike vlak in ons moderne wêreld geword het (kyk “greening mainstream politics”), moet dit altyd in ag geneem word in die formulering van beleide en grootskaalse ontwikkelings, -planne en -programme (PPP’s). (Let wel: Moet nie die afkorting PPP wat vir beleide, planne, en programme gebruik word, verwar met PPP wat ook vir owerheids-privaat-vennootskappe gebruik word nie [Kyk “public-private partnerships”.]) Inderwaarheid behoort omgewingsbelang die basis van alle PPP’s te vorm. Net soos ekonomiese en sosiokulturele oorwegings in berekening gehou moet word in PPP’s, behoort die omgewing in ag geneem te word. Dit is wat ons “triple bottomlining” noem en dit beteken dat ’n ontwikkelingsbeleid ekonomies, sosiaal-kultureel asook omgewingsgewys volhoubaar moet wees. Dit is deesdae onvermydelik om amptelike toestemming vir die uitvoering van enige ontwikkelingsbeleide, strategieë en -programme te verkry sonder dat die omgewing ten volle in ag geneem is. SOB is baie wyd in omvang en het niks met die fyner besonderhede van ’n enkele ontwikkelingsprojek (soos die afvalhantering in ’n wêrelderfenisterrein) te make nie, maar dit bewaak die belange van die omgewing wanneer nasionale ekonomiese strategieë ontwerp word. SOB is deel van die sogenaamde “tweede generasie” omgewingsbestuur en dit het nog nie eers in die ontwikkelde lande universele erkenning behaal nie, terwyl dit baie selde eers oorweeg word in die ontwikkelende lande, insluitend Suid-Afrika. Nasionale en streeks-ekonomiese strategieë, -beleide en -programme behoort vir erfenisterreine voorsiening te maak, en sulke terreine behoort ’n basis vir ontwikkeling in sulke gebiede te vorm. Beplanning vir noord-wes Gauteng behoort rondom die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein te sentreer en dit geld ook vir noord-wes Limpopo se Mapungubwe-terrein. Ten tyde van hierdie skrywe bedreig sekere mynbouaktiwiteite die diepliggende wese van die Mapungubwe-terrein, en sommige van hierdie aktiwiteite is wetmatig deur die NEMA-wetgewing (kyk “environmental management”) goedgekeur. Dit beteken ’n opdraande stryd vir die omgewingsgesindes en NRO’s wat daardie spesifieke mynbou-aktiwiteite nou ter wille van die natuurlike en menslike erfenis wat daar bewaar word, beveg. Suid-Afrika het nog nie ’n tradisie van SOB nie, en dit is uiters ironies aangesien Suid-Afrika die eerste land in die wêreld was wat die belange van die omgewing in sy Grondwet, no 108 van 1996, verskans het. Moontlik het omgewingsbestuur in Suid-Afrika nou volwassenheid bereik en SOB kan tot sy reg kom. Die kontroversiële steenkoolmynbou noord van die Soutpansberg in die Limpopo-vallei het nou ’n baie ernstige bedreiging vir landbou, die Vhembe-biosfeer, sekere tradisionale gemeenskappe, ’n aantal natuurreservate en oorde, en die watervoorrade vir die hele gebied geword. ’n Aantal staatsdepartemente, lokale bewaringsliggame, gemeenskapsorganisasies, belangegroepe, geörganiseerde landbou, tradisionale gemeenskappe en een steenkoolmynmaatskappy is nou in ’n emosionele dispuut oor mineraleregte en mynbou-aktiwiteite in die gebied gewikkel. Dit wil voorkom dat ’n omvattende SOB die dooie punt kan breek. Gevolglik is daar nou formeel aansoek gedoen vir ’n SOB van die hele gebied. Dit sal die eerste formele SOB in Suid-Afrika wees. Dit is ironies dat’n SOB gebruik gaan word om ’n dispuut op te los in plaas daarvan dat so ’n assessering gedoen is voordat die mineraleregte en mynboutoestemmings toegestaan is, aangesien dit die hele dispuut kon voorkom het.