ruimtelike navraag — Afrikaans

’n Geregverdigde vraag oor die ruimtelikheid van ’n spesifieke veranderlike. Kortom, dit is die tipe vraag wat geograwe voortdurend probeer antwoord. Geograwe benodig ruimtelike data (kyk “spatial data”) en moet ruimtelike analises doen om hierdie vrae te beantwoord, maar dikwels is dit onmoontlik om ruimtelike data oor die spesifieke veranderlike waarin ons geïnteresseerd is in te win en dan moet ons die ruimtelike data oor verwante veranderlikes gebruik, ongeag of hulle oorsaaklik of andersins verband hou met die veranderlike wat ondersoek word. Gestel ek wil ’n roomysstalletjie in die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein oprig. Eers moet ek aansoek doen en toestemming verkry om dit te doen. In my aansoek moet ek die presiese ligging van my stalletjie beskryf. Watter punt op die terrein sou die mees geskikte ligging vir my stalletjie wees? Onthou dat die terrein etlike vierkante kilometer beslaan. Watter veranderlikes sou die belangrikste wees vir die sukses van sowel my aansoek as my besigheid? Eerstens, is daar gebiede binne die terrein waar navorsing aktief voortgaan en besoeker word nie toegelaat tot hierdie gebiede nie. ’n Kaart waarop al hierdie gebiede aangedui is, is kennelik nodig. Tweedens, is daar wildernisgebiede waar sekere besoekers in die natuur stap, maar hulle verwyl nie lang tye op enige plek nie en die stapafstand is te lank vir bejaardes en klein kinders om af te lê, gevolglik is daar nooit baie besoekers in daardie gedeeltes van die terrein nie. Hierdie gebiede kan nou op die kaart van die aktiewe navorsingsgebiede aangedui word. Derdens, is daar die verskillende grotte binne die terrein, maar hulle is nie almal ewe gewild by besoekers nie. Sommige van die grotte ontvang gemiddeld net vyf besoekers per week, terwyl ander grotte ’n gemiddeld van 80 besoekers per dag ontvang. Oor naweke wag besoekers in ’n tou hulle beurt af om in die grot in te gaan, en ’n roomys sal waarskynlik baie welkom wees terwyl hulle wag. ’n Kaart wat besoekersgetalle aan die onderskeie grotte toon, kan geteken word. Verder is daar die museum wat deur byna elke besoeker aan die terrein besoek word en kinders geniet die aktiwiteite van die uitstalling so baie dat hulle genoeg tyd daar deurbring om honger te wees wanneer hulle die museum verlaat. Rondom die museum is daar egter ’n beperkingsone waar geen voedsel of drank toegelaat word nie en dieselfde beperking geld ook by sekere van die meer gewilde grotte. Nog ’n kaart word kennelik benodig. Verder is daar die ruimtelike imperatiewe verbonde aan museums en wêrelderfenisterreinstatus en dit sal nog kaarte tot die versameling byvoeg. Laastens, moet ons onthou dat die hele terrein deurspek is met ou, gestabiliseerde sinkgate asook aktief-groeiende sinkgate wat gekarteer is en tot ons pak kaarte gevoeg moet word. Al hierdie ruimtelike data kan deesdae in ’n GIS ingevoer word. Die rekenaarprogram sal die verskillende kaarte se inligting kombineer en ’n kaart saamstel wat die optimale ligging vir my roomysstalletjie aandui. Uiteindelik het ek ’n antwoord op my ruimtelike navraag (maar ek twyfel of ek nog genoeg geld oor het om dit te bou!)