ruimtelike patroon — Afrikaans

Die wyse waarop die objekte, toestande of verskynsels in ’n spesifieke gebied of area op die aardoppervlak gerangskik is. Wanneer geograwe die areas of punte (plekke) waar iets wat bestudeer word, voorkom op ’n kaart geplot het, is daar onmiddellik ’n sekere patroon wat aan die geoefende oog duidelik word. ’n Grafiese voorstelling van ’n ruimtelike verspreidingspatroon onthul dadelik ’n magdom inligting oor die onderwerp wat bestudeer word. Die verskynsel kan op een plek gekonsentreerd in ’n sekere deel van die studiegebied voorkom, of dit kan in ’n paar lokaliteite binne die gebied voorkom, of dit kan ewekansig verspreid deur die hele gebied voorkom, of selfs liniêr langs ’n rivier, pad of treinspoor voorkom, of op etlike ander opvallende maniere ruimtelik verspreid voorkom. Die ruimtelike verspreiding van ’n verskynsel is nooit ’n blote toevalligheid nie; daar is altyd redes waarom verskynsels voorkom dáár waar hulle voorkom. Deur die ruimtelike verspreidingspatroon van die voorkoms van ’n verskynsel te bestudeer, kan geograwe ’n verstommende hoeveelheid inligting oor die verskynsel wat ondersoek word, bekom. Vir ’n geograaf sê een kaart baie meer as bladsye geskrewe teks. Om ruimtelike patrone te ontleed, gebruik geograwe kaarte en daarom is kaarte enige geograaf se vernaamste hulpmiddel. (Kyk “spatial distribution”.)