ruimtelike interpolasie — Afrikaans

Die veralgemening van data wat by enkele punte binne in ’n spesifieke gebied gevind is, en dit as beskrywend van die hele gebied te beskou. In eenvoudige terme beteken dit dat dít wat op enkele punte gevind is, as tiperend van die gebied as geheel beskou word en aan die hele gebied toegeskryf word. In geografie is ruimtelike interpolasie dikwels noodsaaklik, maar geograwe weet dat presies dieselfde toestande nie noodwendig vir elke punt binne die gebied geld nie. Elke enkele punt kan natuurlik nie gemoniteer word nie, daarom gebruik geograwe die metode van ruimtelike veralgemening met die volle wete dat daar gevare aan verbonde is. Ander wetenskaplikes wat nie so ruimtelik ingestel is soos geograwe nie, gebruik dit voortdurend sonder enige huiwering. As ’n navorsingstegniek kan veralgemening nie verdoem word nie, maar navorsers behoort te besef dat hulle aannames maak. Geograwe gebruik ruimtelike veralgemening gedurig, maar vanweë hulle opleiding ken hulle die idiografiese beginsel (kyk “geodiversity”) en is bewus van die implikasies van ruimtelike variasie binne elke gebied, terwyl ander wetenskaplikes hoegenaamd nie daarvan bewus is nie.