ruimtelike interaksie — Afrikaans

Die permanente of tydelike beweging van mense en/of goedere en/of inligting vanaf een plek (punt) op die aardoppervlak na ’n ander plek of punt. Aangesien die voorkoms van mense, toestande en verskynsels oor die aardoppervlak varieer (kyk “spatial distribution”, “spatial variation” en “spatial economy”), het mense altyd met ander mense wat ruimtelik van hulle geskei was, kontak en interaksie gehad. Die volume ruimtelike interaksie het voortdurend vermeerder namate tegnologie ontwikkel het. ’n Honderd jaar gelede het dit ’n paar weke ter see geverg om van Londen na Kaapstad te reis; vandag verg dit ’n paar uur in ’n vliegtuig. Saam met die mense, beweeg goedere van plek tot plek. Goedere word vervoer met behulp van kommunikasienetwerke soos padnetwerke, spoorlyne, skeepsroetes, koerierdienste, lugvaartroetes, ensomeer. Die ontwikkeling van die internet het ’n onmeetbare bydrae tot ruimtelike interaksie op Aarde gemaak. ’n Enorme volume inligting word met behulp van die Internet oor ruimte oorgedra. Ten spyte van moderne tegnologie, word ruimtelike interaksie steeds deur afstand beïnvloed. Die interaksie tussen plekke wat ver van mekaar geleë is, is steeds minder as dié tussen nabygeleë plekke. Dit is wat ons afstandsverval noem. Die gravitasiemodel – gebaseer op Newton se fisika dat ’n groter liggaam ’n sterker aantrekkingskrag as ’n kleiner liggaam uitoefen – is nog net so belangrik in die teorie van geografie as wat dit altyd was.