ruimtelike ekonomie — Afrikaans

Om ’n lewe te maak of hulle bestaande materiële welvaart te verhoog, neem mense deel aan winsgewende aktiwiteite, maar hierdie aktiwiteite vind oor ruimte plaas. Die mense self hoef nie noodwendig lang afstande te beweeg nie, maar saketransaksies (ekonomiese aktiwiteite) bevat gewoonlik ’n afstands- of ruimtelike komponent en kommunikasienetwerke is dig verweef in alle ekonomiese aktiwiteite. Aangesien ekonomiese aktiwiteite oor ruimte plaasvind, beskryf hulle ruimtelike patrone wat deur ekonomiese geograwe bestudeer word (kyk “spatial distribution”, “spatial interaction” en “spacio-temporal [or space in time] perspective”). Ekonomiese aktiwiteite binne een spesifieke gebied is egter deel van ’n ekonomiese netwerk wat ’n magdom plekke op Aarde betrek. Deesdae is ekonomiese aktiwiteite byna heeltemal geglobaliseer en multi-nasionale korporasies of maatskappye (MNK’s of MNM’s) domineer alle ekonomiese aktiwiteite op Aarde, en ruimtelikheid is een van die belangrikste aspekte van alle ekonomiese aktiwiteite. ’n Eenvoudige voorbeeld sal dit moontlik beter verduidelik as bladsye vol teks. ’n Boer wat in landelike Limpopo-Provinsie kool plant, benodig ’n paar plastiese pype om sy koolplante nat te lei. Hy gebruik sy selfoon (wat in die VSA ontwerp is en in Korea gemaak is) en kontak ’n plaaslike winkel (deur middel van ’n selfoondiensverskaffer wat in Johannesburg gesetel is) om sy pype te bestel. Die winkeleienaar gebruik sy landlyn-telefoon en kontak die internasionale vervaardigingsmaatskappy se inbeldiens en praat met iemand in Australië om inligting oor die beskikbaarheid en aflewering van die pype wat eintlik in Benoni, Suid-Afrika gemaak word, te verkry. Alternatiewelik kan hy e-pos gebruik om die inligting te verkry. Die boer gebruik sy voertuig (wat in Japan gemaak is, maar in die Oos-Kaap gemonteer is) om sy pype in die naaste dorp te gaan haal. Wanneer die kool gepluk moet word, stap ’n klomp Zimbabwiese migrante vanaf ’n nabygeleë vlugtelingnedersetting na die plaas en sny die koolkoppe af. ’n Kontrakteur met ’n vragmotor (wat in Indië gemaak is) neem die koolkoppe na die mark in Pretoria. Daar koop ’n aantal kleinhandelaars (kyk “retail facilities”) die kool en verkoop dit aan verbruikers in menige winkels regoor Pretoria. Kan jy jou voorstel hoe ingewikkeld die ruimtelike verspreidings- en interaksiekaart van hierdie relatief eenvoudige ekonomiese aktiwiteit is? Hoewel die streeksekonomie van Limpopo Provinsie landboukundig van aard is, is dit verwikkel in ’n toenemend komplekse netwerk wat die hele wêreld betrek.