ruimtelike verspreiding — Afrikaans

Die patroon waarvolgens enige veranderlike, soos ’n spesifieke objek of toestand, geleë is. In meer algemene woorde is dit die antwoorde op vrae soos “waar is hierdie goed?”, “waar het hierdie moorde plaasgevind?”, “waar is die poskantoor in hierdie dorp?”, “waar in die wêreld kom die ekwatoriale oerwoude voor?”, “waar woon die arm mense?”, ensovoorts. Die krities belangrike woord, is “waar”. Die eerste vraag wat enige ware geograaf altyd behoort te vra, is “waar?”. Geografie is ’n ruimtelike wetenskap en is in sy diepste aard gemoeid met die patrone wat die ligging van verskynsels beskryf. Geograwe teken kaarte om die ligging van verskynsels grafies aan te dui (te beskryf) en te dokumenteer. Om die ruimtelike verspreiding van ’n verskynsel grafies te beskryf – dit wil sê, te karteer – is altyd ’n geograaf se eerste oogmerk. ’n Mens kan so ver gaan as om te sê dat as iets nie gekarteer kan word nie, is dit nie geografie nie, maar dit sou darem té ekstreem wees. Tog is die kartering van die voorkoms van ’n verskynsel een van die waardevolste aspekte van die bestudering van die verskynsel. Die patroon wat gevorm word deur die ruimtelike voorkoms van ’n verskynsel ontsluit ’n magdom inligting oor die verskynsel (kyk “spatial pattern”). Om die ruimtelike verspreidingspatroon te kan beskryf, dra grootliks by tot die verklaring van die verskynsel en verduidelik dikwels die oorsaak-gevolg verhouding. Uit die vraag “waar?”, vloei ’n hele klomp vrae soos “hoekom hier?”, “hoekom nie daar nie?”, “hoekom eers hier en later daar?” en die antwoorde op hierdie vrae is uiters belangrik in die bestudering van enige verskynsel op Aarde. Geograwe is spesiaal toegerus om antwoorde op hierdie vrae te vind aangesien hulle opgelei is daarvoor en oor die kennis en ervaring in ruimtelike navorsingstegnieke beskik.