gronderosie — Afrikaans

Die geleidelike wegvoering van die boonste, vrugbare laag van die aardoppervlak. Erosie (kyk “erosion”) sluit die verwering van gesteentes asook die verwydering van die verweringspuin en -gesteentefragmente, en die bolaag vrugbare grond wat plantlewe onderhou, in. Wanneer ons van gronderosie praat, verwys ons egter na die verlies van die laag oppervlakmateriaal wat alle plantlewe op Aarde onderhou. Gronderosie is ’n natuurlike proses wat nog altyd plaasgevind het en waarskynlik ewig sal voortduur. Oor die afgelope paar duisend jaar het menslike aktiwiteite egter gelei tot versnelde gronderosie waardeur grond vinniger verloor word as wat dit deur die natuurlike prosesse vervaardig kan word. Dit beteken dat ons besig is om die grond se produksievermoë waarvan ons afhanklik is, te verloor. Die grond kan verlore gaan as gevolg van plaaterosie wat die verwydering van ’n min of meer uniforme laag grond is wat doodeenvoudig deur oppervlakvloei van water weggespoel word. Gevorderde plaaterosie gee aanleiding tot tallose klein erosiegroefies (bekend as “rills”) wat slegs, sentimeters diep is, maar ’n reuse gebied kan beslaan. Namate die groeferosie voortgaan, konsentreer die oorlandvloei van water in die groefies en vergroot hulle later tot hulle uiteindelik erosieslote (“gullies”) is wat meters diep en honderde meters lank kan wees. Teen daardie tyd kan die gebied nie meer vir bewerking en voedselproduksie gebruik word nie omdat al die vrugbare bogrond reeds weggespoel het. Daar is talle menslike aktiwiteite wat tot hierdie rampspoedige verlies van miljoene hektaar produktiewe landgebied oral in die wêreld lei, maar die vernaamstes is oormatige verbouing, oorbeweiding, onoordeelkundige verbouing, kap-en-brand landbou (slash-and-burn cultivation) en die algemene oorbenutting van die land. Wanneer te veel mense op ’n te klein stukkie land of in ’n ongeskikte gebied deur middel van hulle tradisionele landboumetodes ’n lewe probeer maak, kan die hele gebied gedegradeer word totdat die produksievermoë heeltemal tot niet is. Miljoene hektaar land in Afrika het op hierdie wyse tot niet gegaan. Gronderosie is die ernstigste omgewingsprobleem wat die mensdom in die gesig staar, maar dit geniet baie minder mediadekking en publisiteit as lugbesoedeling, waterbesoedeling en aardverwarming. Dit is goed dat mense van die laasgenoemde vraagstukke bewus is, maar ons prioriteite is nie altyd korrek nie. Tallose internasionale konferensies en konvensies is al oor klimaatsverandering, lugbesoedeling, aardverwarming, waterbesoedeling en voedselsekuriteit gehou (kyk “climate change”, “enviromental degradation”, “food security” en “environmental conventions”), maar gronderosie was nog nooit die sentrale fokus van só ’n konferensie nie. Wetlik geniet grond ook minder beskerming as lug en water, tog is die verlies van vrugbare bogrond die ernstigste omgewingshulpbronvraagstuk wat ons in toekoms sal moet hanteer.