kleinhandelfasiliteite — Afrikaans
Plekke en/of geleenthede vir gewillige handelaars en gewillige kopers om wettig relatief klein hoeveelhede goedere vir geld of ander goedere of dienste te verhandel. Vanaf die vroegste tye het mense handelgedryf. Daar is verskillende vorme van kleinskaalse handeldryf: goedere kan letterlik van een hand na ’n ander hand verruil word (ek ruil my hoender vir jou bottel heuning); goedere kan vir dienste verruil word (ek help jou om die appels in jou boord te pluk en ontvang ’n gedeelte van die oes as kompensasie vir my arbeid); goedere kan vir geld verhandel word (ek koop jou koei teen ’n wedersyds ooreengekome prys), ensovoorts. Hierdie transaksies het enige plek plaasgevind, byvoorbeeld langs die paaie en op die straathoeke, en dikwels by die erkende, tradisionele mark of die plaaslike winkels (soos spazas wat aan een gesin behoort en in sekere tipe ware handeldryf), of in die sentrale sakegebied of besigheidsdistrik (SBD) van die dorp of stad (kyk “central business district”). Tradisionele markte het dikwels die hele SBD van ou stede beslaan. Om enige iets te koop of te verkoop, het die mense na die SBD gegaan. Mettertyd het kleinhandel baie verander, maar die tradisionele praktyke vind nog steeds in verskillende vorme in veral die ontwikkelende lande plaas, hoewel dit ook in die ontwikkelde ekonomieë plaasvind, maar die goedere wat verhandel word, het dikwels meer gesofistikeerd geword. Die infrastruktuur wat vir kleinhandel benodig word, het meer modern geword en deesdae doen baie kleinhandelaars sake in formele winkels in geboue wat spesiaal vir die doel gebou is; winkels het nou vaste adresse. Kleinhandelaars koop voorrade in grootmaat by groothandelaars aan en verkoop dit teen ’n hoër prys aan kopers in hulle winkels. Die kopers betaal effens (of baie) duurder, maar het die gerief daarvan om hulle benodigdhede plaaslik te kan aanskaf. In die meeste moderne stede is die SBD nie meer die belangrikste verkoopsruimte of kleinhandelruimte nie en die meeste kleinhandel vind in gedesentraliseerde fasiliteite (soos inkoopsentrums) plaas. Mense gaan eerder na nabygeleë fasiliteite en inkoopsentrums vir hulle alledaagse aankope as na die SBD. As gevolg van die geografiese verskuiwing van die kleinhandelgebiede het baie SBD’s verlate en vervalle geraak (kyk “gentrification” en “central business district”) en slegs onwettige verkope, onwettige praktyke en ontug gedy nou daar. Byvoorbeeld, dit sal makliker wees om in die SBD kokaïne te koop en die dienste van prostitute te bekom as om dit in ’n spoggerige inkoopsentrum binne loopafstand te bekom. Die amptelike pogings om sommige van die historiese SBD’s op te ruim, te vernuwe en te laat herleef (kyk “gentrification”), kan dalk in die toekoms ’n terugkeer van kleinhandel na die SBD te weeg bring, maar dit sal beslis nie spoedig gebeur nie. En in die ontwikkelende lande is die alombekende spaza-winkels ’n kenmerk wat niemand graag sal verloor nie!