hulpbronne — Afrikaans
Die konsep “hulpbronne” kan in bykans enige studieveld toegepas word, wat aanleiding gee tot ’n verskeidenheid definisies daarvoor, afhangende van die konteks waarin dit gebruik word. In Geografie word hulpbronne gedefinieer as enigiets van natuurlike oorsprong wat deur mense benodig word of wat vir hulle van waarde is. Die belangrikste onderskeidende faktore is dat hulpbronne natuurlik moet voorkom, bruikbaar moet wees en deur die samelewing as geskik beskou moet word om hulle ekonomiese en materiële welstand te ondersteun. Geograwe verstaan dat “hulpbronne” ’n kulturele konsep is, en dat natuurlike hulpbronne slegs as hulpbronne beskou word as dit deur mense as waardevol geag word. Hierdie aspek wissel van kultuur tot kultuur en met die verloop van tyd. Die verspreiding van hulpbronne varieer ruimtelik oor die wêreld ten opsigte van beide kwantiteit en kwaliteit. Daarby is sommige hulpbronne beperk, en kan dit met ander woorde opgebruik word (dit is nie-hernubaar), terwyl ander teen ’n wisselende tempo aangevul kan word (hulle is hernubaar). Sien “kommodifikasie”, “omgewingshulpbronne”, “oorbenutting”, “fossielbrandstof”, “voorkomingsbeginsel”, “hulpbronbestuur”, “hersirkulering”, “hernubare energie”, “gronderosie”, “toerismehulpbronne” en “vleilande”.