afstandswaarneming — Afrikaans
Die insameling van data oor ’n verafgeleë objek deur middel van ’n gespesialiseerde instrument – ’n sensor – sonder dat die instrument fisies in kontak met, of eers naby aan, die objek hoef te wees. Die instrument kan ’n kamera, sonartoestel, meganiese skandeerder, radarstelsel, lasersensor, elektroniese sensor, of ’n elektromagnetiese radiasiesensor (stralingsensor) wat in ’n satelliet wat om die aarde wentel gemonteer is. Alle natuurlike of sintetiese, mens-gemaakte objekte met ’n temperatuur hoër as absolute nul (dit wil sê, nul op die Kelvinskaal, oftewel -273,16˚C) het, straal elektromagnetiese energie uit. Verskillende objekte straal verskillende golflengtes elektromagnetiese straling uit en ons kan sensors vervaardig om die verskillende golflengtes van radiasie te registreer. ’n Gewone kamera, soos die een in jou selfoon, kan ’n baie beperkte reikwydte van golflengtes, naamlik die golflengtes in die sigbare gedeelte van die spektrum, registreer – dit is dieselfde golflengtes wat ons met ons oë kan sien (daarom noem ons dit die sigbare spektrum). Laserinstrumente kan golflengtes wat buite die sigbare spektrum is, uitstraal. Gevolglik kan ons nie laserstrale sien nie tensy hulle deur een of ander medium weerkaats word. Dit word baie effektief in teaterproduksies en popkonserte gebruik, maar word hoofsaaklik vir bona fide wetenskaplike, militêre en mediese doeleindes aangewend. (Sonarbeelde [klankgolfbeelde] word dikwels vir militêre en medisinale doeleindes aangewend, maar dit is ’n geheel ander proses. Klankgolwe word deur ’n toestel uitgestuur en dieselfde instrument registreer die golwe wat terugkaats vanaf die objek waarheen dit uitgestuur is. Met sonartoerusting kan ’n baba veilig binne die moeder se uterus bekyk word.) Dit is belangrik om daarop te let dat ’n gewone lugfoto sonder enige verwerking van die beeld geïnterpreteer kan word, maar satellietbeelde moet eers geprosesseer word voor ons dit kan interpreteer.