regulering — Afrikaans

Deesdae het al die ontwikkelde lande en die meeste van die ontwikkelende lande amptelike omgewingsbestuurstelsels om die omgewing volgens gepromulgeerde omgewingswetgewing (dit wil sê, spesifieke wette) te beskerm. Omdat die nasionale omgewingswette vir alle gebeurlikhede voorsiening moet maak, is hulle dikwels generies, vaag en bevat min detail. Dit is die normale aard van alle wetgewing. Op een of ander manier maak hierdie omgewingswette egter voorsiening vir individuele en/of spesiale toestande en gevalle. Hierdie ondergeskikte maatreëls is regulasies wat net so regsgeldig en bindend as die oorkoepelende “sambreel-wetgewing” is. In Suid-Afrika is die “sambreel-wetgewing” die Nasionale Omgewingsbestuurwet, nommer 107 van 1998, wat algemeen as NEMA (of Nema) bekend staan (kyk “environmental management”). Sterk omgewingswetgewing, soos wat ons in Suid-Afrika het, vereis ’n omgewingsbestuursplan (OBP) (environmental management plan [EMP]) vir elke voorgestelde ontwikkelingsprojek of menslike aktiwiteit wat ’n beduidende impak op die omgewing kan hê. Die OBP stipuleer die spesifieke besonderhede van die maatreëls en aksies wat noodsaaklik is om die omgewingsimpak te beperk, te minimiseer en te “versag”.