vlugteling — Afrikaans

’n Persoon wat van een plek na ’n ander vlug om sy/haar lewe te red. Dwarsdeur die geskiedenis van die mensdom was daar nog altyd vlugtelinge oral in die wêreld. As gevolg van die redes waarom mense vlug, is daar sekere gebiede op Aarde wat meer geredelik met vlugtelinge geassosieer word as ander gebiede, maar daar is min of geen gebiede wat nooit die verskynsel ervaar het nie. Mense vlug hoofsaaklik as gevolg van politieke onstabiliteit, godsdienstige onverdraagsaamheid en vervolging of hongersnood, maar natuurrampe soos vulkaniese uitbarstings, aardbewings en vloede veroorsaak ook dikwels dat mense vlug. Vlugtelinge in die ware sin van die woord vlug met niks anders as die klere aan hulle lywe nie. Dikwels gryp hulle net hulle kinders en hardloop. Hulle het geen identiteitsdokumente, geld, besittings, waardevolle items of kos en komberse nie. Hulle is totaal aangewese op die genade van die gasheergemeenskap waarheen hulle gevlug het. Wanneer mense om politiese of godsdiensredes vlug, vlug hulle gewoonlik oor ’n internasionale grens en hulle vlugtelingskap is permanent. Wanneer mense as gevolg van hongersnood of natuurrampe vlug, vlug hulle dikwels na ’n ander deel van hulle eie land en hulle keer dikwels terug na hulle oorspronggebiede wanneer toestande daar verander het en die bedreiging nie meer bestaan nie. Gasheergemeenskappe kan moontlik hulp van die Verenigde Nasies se Hoë Kommissie vir Vlugtelinge (UNHCR) kry, maar die instroming van vlugtelinge is hoogs traumaties vir die gasheerlande en -gemeenskappe. Ontvangs- of deurgangsentrums word dikwels opgerig om die vlugtelinge te hanteer. Politieke vlugtelinge kan politieke asiel in die gasheerland ontvang, maar dit is gewoonlik ’n tydelike reëling wat hulle toelaat om ’n sekere tydperk in die gasheerland te vertoef. Daarna moet hulle na ’n ander land vlug of na hulle land van herkoms terugkeer. Die UNHCR sal nooit mense na hulle lande van herkoms terugstuur as dit ’n sekere dood sou beteken nie, maar om permanente oplossings vir ’n vlugtelingkrisis te vind, is uiters problematies. Daar is vandag miljoene vlugtelinge wêreldwyd, en dit verskil hoegenaamd nie van wat die toestand dwarsdeur die menslike geskiedenis was nie, maar die absolute getalle vlugtelinge is hoër is ooit in die geskiedenis, bloot omdat die wêreldbevolking soveel groter as ooit tevore is. Vlugtelinge moet nie met migrante verwar word nie. Suid-Afrika word tans deur ekonomiese migrante uit ’n hele aantal Afrika-state oorstroom. Baie min van hierdie mense is vlugtelinge in die ware sin van die word. Slegs ’n klompie Zimbabwiërs en Somaliërs is ware politiese vlugtelinge wat as gevolg van lewensbedreigende omstandighede na Suid-Afrika gevlug het. Die oorgrote meerderheid van hierdie vreemdelinge het bloot na Suid-Afrika migreer op soek na betalende arbeidsgeleenthede. Hulle ontvlug slegs die swak ekonomiese omstandighede in hulle lande van oorsprong. Aan sommige van hulle word selfs politieke asiel toegestaan bloot omdat die enigste manier is om darem tot ’n mate tred met hulle te hou. Hierdie arme mense is inderdaad ’n las op Suid-Afrika se sosiale dienste en ekonomiese vooruitgang.