attribuutdata — Afrikaans

Die besonderhede wat ’n persoon, plek, aktiwiteit of verskynsel beskryf. Dit is baie moeilik om die term attribuutdata te definieer omdat die terme “data” en “attribuut” dikwels in Geografie uitruilbaar gebruik word. Die term het inderwaarheid meer te make met die vaslegging van data (elektronies of met die hand) in ’n databasis as met enige iets anders. Geograwe bestudeer die ruimtelike verspreidingspatrone van data (kyk “spatial distribution”). Elke stukkie data wat vir geograwe belangrik is, het twee hoof eienskappe: eerstens is dit data oor iets wat êrens voorkom (dit is die ruimtelike eienskap), en tweedens het dit een of ander kwaliteit wat vir geograwe van belang is. Hierdie kwaliteit is ’n beskrywende eienskap of ’n attribuut. Geograwe bestudeer ruimtelike patrone, dit wil sê die wyse waarop attribute binne ’n spesifieke gebied, naamlik die studiegebied, versprei is. Die onderwerp wat bestudeer word, mag iets soos die voorkoms van griep in ’n spesifieke gebied wees. Die studiegebied word gedefinieer en dan op ’n kaart afgebaken (kyk “demarcation”). Tweedens word al die mense wat in die studiegebied woon met behulp van hulle adresse op die kaart geplot (gestip). Nou het ons ’n kaart met ’n klomp kolletjies op. Die ruimtelike verspreidingspatroon van die mense in die studiegebied is dus grafies beskryf en dit kan maklik op die kaart raakgesien word. Maar sommige van hierdie mense (kolletjies) het griep en ander het dit nie. As die kolletjies wat die mense voorstel wat griep het, rooi gekleur word, en die ander blou gekleur word, kan ons duidelik die verspreidingspatroon van griep binne die studiegebied sien. Die kolletjies dra die ruimtelike data en die kleur dra die attribuutdata.