bewaringsgebiede — Afrikaans

Enige landelike of stedelike gebied wat as bewarings- of beskermingswaardig vir die voordeel van die toekomstige geslagte geag word. Dit sluit in wildernisgebiede, natuurparke, wildtuine, skouspelagtige watervalle, dramatiese kuslyne, enorme ekspanse onaangetaste woestyn, historiese gedeeltes van stede, ou stedelike kerne, losstaande mensgemaakte artefakte plus hulle omliggende omgewings, en vele meer. Museums bied ’n veilige bewaarplek vir relatief klein objekte, maar groot natuurverskynsels en menslike artefakte soos die Taj Mahal in Aggra (Indië), die piramides in Egipte, die Kruger Nasionale Park, die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrrein en die Iguassú-waterval kan nie in ’n museum bewaar word nie. Die bewaringswaardigheid van hierdie plekke en objekte is egter al baie jare of selfs honderde jare lank duidelik en pogings om hulle te beskerm dateer uit die vervloë verlede. Nog lank vóór moderne omgewingsbestuur eers uitgedink is, is hierdie uiters spesiale, kosbare en onvervangbare plekke en objekte reeds met behulp van verskeie ad hoc internasionale ooreenkomste, nasionale wette, streeks- en/of munisipale regulasies en ’n magdom doelgemaakte regsinstrumente beskerm. Hoewel hedendaagse omgewingsbestuur en -wetgewing voorsiening maak vir die beskerming van hierdie spesiale entiteite, geniet hulle steeds spesiale beskermingstatus en baie van die ou, spesiale pre-omgewingsbestuursmaatreëls geld steeds vir hulle. In baie gevalle, is die ou, geval-spesifieke maatreëls nog die hoogste gesag terwyl die heersende omgewingsbestuursmaatreëls ’n ondergeskikte rol speel. Antarktika is ’n toepaslike voorbeeld. Normale omgewingswetgewing geld nie vir Antarktika nie want die hele kontinent staan onder die beskerming van die Internasionale Antarktiese Verdrag. Dit is ’n internasionale liggaam – onder die beskerming van die VN – wat vir alle praktiese doeleindes die hoogste besluitnemingsgesag oor Antarktika is. Uit die bogenoemde paar voorbeelde behoort dit duidelik te wees dat die plekke en objekte wat beskerm moet word grootliks van mekaar verskil wat sowel grootte as aard betref. Selfs binne een en dieselfde erfenisterrein soos die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein word sekere areas slegs liggies beskerm, terwyl ander areas so streng beskerm word dat besoekers nie eers daar toegelaat word nie. Hierdie omgewingsbeskermingsmodel word deesdae algemeen toegepas sodat sekere gedeeltes van ’n bewaringsgebied nie eers vir die publiek toeganklik is nie, terwyl die beheer oor ander gedeeltes – die sogenaamde buffergebied – baie minder streng is sodat die publiek die wonderlike natuurskoon en die mensgemaakte kunsskatte van oral in die wêreld kan geniet. (Let daarop dat omgewingsbestuur met sowel die natuurlike as die mensgemaakte omgewings gemoeid is.)