profieltekening — Afrikaans

Die proses waardeur ’n kant-aansig van ’n klein gedeelte van die aardoppervlak geteken word om ’n voorstelling van die reliëf van die gebied soos in sy-aansig gesien, daar te stel. Dit word gedoen deur middel van ’n eenvoudige, relatief primitiewe tegniek waarvoor daar niks meer nie as ’n kontoerkaart van die gebied benodig word nie (kyk “isometric line” en “topocadastral map”). Indien ’n kant-aansig van ’n sekere reliëftrek benodig word, word ’n lyn wat bo-oor die reliëftrek strek en twee definitiewe punte (noem hulle A en B) verbind. Die twee gekose punte is gewoonlik prominente landtrekke soos trigonometriese bakens wat aan weerskante van die topografiese verskynsel geleë is. Punte A en B word op die kaart met ’n gewone lyn verbind. Die rand van ’n aparte vel papier word teen hierdie lyn gelê. Waar hierdie lyn ’n kontoerlyn sny, word ’n merk op die rand van die los vel papier gemaak en die hoogte bo seevlak van hierdie punte word neergeskryf (kyk “isometric line”). Daarna teken mens ’n asstelsel op die los vel papier direk onder die rits merkies wat op die rand van die los vel papier gemaak is. Die horisontale as (die x-as) verteenwoordig die afstand tussen punt A en B, volgens die skaal van die kaart (gestel dit is 1:50 000). Die skaal van die y-as word deur die profieltekenaar volgens gerief gekies en – afhangend van die reliëf van die betrokke gedeelte van die aardbol – kan dit enige gerieflike skaal wees, soos byvoorbeeld 2 mm op die profieltekening verteenwoordig 20 m in die werklikheid. Punt A word op die vertikale as (y) volgens die punt se hoogte bo seevlak geplot en al die kontoer-interseksiepunte wat op die randlyn van die vel papier gemerk is, word almal op die x-as geplot op die punte waar die vertikale waarde (hoogte bo seevlak) en die ligging van die punt mekaar sny. Al die geplotte punte word dan met ’n lyn verbind om ’n visuele voorstelling van die ware reliëf van die oppervlak te bied. Die landskapstrek waarin die navorser geïnteresseerd is, sal duidelik op die profiellyn sigbaar wees. Hierdie tegniek is uiters waardevol in geomorfologie en geologie; in geologie word sulke profiele gewoonlik “dwarsnitte” (“cross-sections”) genoem.