voorkomingsbeginsel — Afrikaans
Daar is geen standaard definisie vir hierdie term nie. Dit is ’n term wat met groot omsigtigheid deur wetenskaplikes gebruik behoort te word. Dit is inderwaarheid ’n intuïtiewe aanvoeling van versigtigheid of twyfel, of onsekerheid, wat spruit uit sowel ’n sekere etiese kode as ’n magdom empiriese getuienis. Die voorkomingsbeginsel is een van die sentrale grondbeginsels waarop die hele pluri-dissiplinêre veld van omgewingsbestuur gevestig is. Die etiese kode waarin moderne omgewingsbestuur geanker is, is dat ons niks moet doen wat moontlik die omgewing onomkeerbaar sal wysig of vernietig nie, en dat ons ons natuurlike hulpbronne op ’n volhoubare wyse moet gebruik (kyk “sustainability”, en“ecocentrism” en “environmentalist”) sodat ons nie ’n vernietigde omgewing aan die toekomstige geslagte nalaat nie. Hierdie etiese kode verskil geheel en al van dié wat in vroeër tydperke van die menslike geskiedenis gegeld het. Tydens die Industriële Revolusie (kyk “industrial revolution”) is die omgewing bloot as ’n voorsiener van hulpbronne, en ’n “ashoop” vir alles waarvoor ons geen nut meer gehad het nie, beskou. Volhoubaarheid van ekosisteme en volhoubare benutting van hulpbronne was net eenvoudig nie deel van daardie etiek nie. Empirisie getuienis het later getoon hoe ernstig ons die omgewing geskaad het en dat ons onomkeerbare skade aangerig het. Op daardie stadium (ongeveer die 1950’s en vroeë-1960’s) het die moderne Omgewingsbeweging momentum gekry (kyk “environmentalist” en “ecocentrism”). Ná nog drie tot vier dekades het die omgewing een van die belangrikste oorwegings in die mensdom se aksies en aktiwiteite geword (kyk “ecocentrism” en “greening mainstream politics”) en ’n heeltemal ander omgewingsetiek geld nou, naamlik ’n etiek van volhoubaarheid. Gebaseer op die voorkomingsbeginsel het ons gesofistikeerde sisteme van institusionele versigtigheid daargestel om menslik aksies en aktiwiteite te reguleer en sodoende te verhoed dat onomkeerbare skade aan die omgewing aangebring word. Te danke aan die voorkomingsbeginsel, bestuur ons nou die omgewing op só ’n wyse dat ons versigtig oorweging skenk aan ons potensiële impak op die omgewing vóór ons iets aanpak wat moontlik ’n nadelige impak op die omgewing kan hê. Ons doel is om omgewingsimpak te voorkom eerder as om te reageer daarop – voorkoming is goedkoper as genesing! Die voorspellings- en voorkomingsaksies wat omgewingsbestuur onderlê, spruit uit die voorkomingsbeginsel.