bevolkingspiramiede — Afrikaans

’n Grafiese voorstelling van die struktuur van ’n spesifieke menslike bevolking. Slegs twee bevolkingsveranderlikes (dit wil sê -eienskappe of -kenmerke), naamlik ouderdom en geslag, word gebruik om ’n bevolkingspiramiede te konstrueer (te teken). Hoewel ’n bevolkingspiramiede ’n relatief eenvoudige voorstelling is, dra dit ’n magdom krities-belangrike bevolkingsinligting (kyk “population growth”) oor. Op hierdie manier kan basiese, relatief maklik bekombare demografiese data uiters belangrike bevolkingsinligting oordra en ’n beduidende hoeveelheid insiggewende inligting kan uit die bevolkingspiramiede afgelei word (kyk “population pyramid”). Bevolkingspiramiedes bied wetenskaplikes die geleentheid om met behulp van relatief eenvoudige visuele voorstellings maklik geldige vergelykings tussen verskillende bevolkings te maak. Sommige van die mees belangrike eienskappe (attribute) van ’n bevolking, soos die kinder-sterftesyfer en die lewensverwagting van die individue in die bevolking kan direk afgelees of afgelei word. Met behulp van ’n bevolkingspiramiede kan ’n mens onmiddellik die absolute getalle individue in die verskillende ouderdoms- of geslagsgroepe (gendergroepe) aflees, maar ook proporsionele inligting inwin en allerlei indekse, soos die ekonomiese afhankliksheidsindeks (kyk “development”) bereken. ’n Bevolkingspiramied is een van die bruikbaarste grafiese voorstellings op grond waarvan vergelykings tussen verskillende bevolkings getref kan word (kyk “demographic data”). Selfs gewilde leke-publikasies soos Time maak dikwels daarvan gebruik.