bevolkingsdigtheid — Afrikaans
Die aantal individue wat binne ’n spesifieke gedeelte van die aardoppervlak voorkom. Dit behels gewoonlik die aantal individue van ’n spesifieke bevolking wat binne ’n spesifieke gebied op die aardoppervlak voorkom, en word meestal uitgedruk as die aantal individue “x” wat per vierkante kilometers (of meters of myl) “y” van die landoppervlak lewe of voorkom. Die indeks kan na die konsentrasie mense, diere, insekte of mikrobe of enigiets anorganies (dit wil sê, nie-lewend) binne ’n spesifieke gebied verwys. In hierdie konteks word die term “bevolking” in ’n statistiese sin gebruik, wat beteken dat enige tipe objek die populasie waarna verwys word, kan uitmaak. In Geografie en die ander omgewingswetenskappe verwys die term “bevolkingsdigtheid” meestal na mense, maar dit is nie noodwendig die geval nie. Dit kan na ander tipes verskynsels soos winkels, skole, bome, soogdiere, reptiele, of mikrobe verwys. Gevolglik is die hele konsep van “bevolking” (population) ’n statistiese konsep. Maar afgesien van die aard van die “bevolking” is die statistiese indeks geldig. ’n Eenvoudige vergelykbare veranderlike om die term te beskryf, is die aantal individuele mense wat binne ’n spesifieke identifiseerbare gebied leef of voorkom. In ’n Indiese krotbuurt kan daar 700 000 of meer individue (mense) binne een vierkante kilometer leef. Die bevolkingsdigtheid is dus geweldig hoog aangesien daar baie minder as een vierkante meter vir elke mens beskikbaar is. Aan die ander uiterste leef daar minder as een individu binne talle vierkante kilometers in die Sahara-woestyn. Die bevolkingsdigtheid in enige verstedelikte gebied is altyd hoër as in enige aanliggende landelike gebied.