aanloklikheid — Afrikaans

’n Plek, verskynsel, uitsig, landskap, geleentheid, aktiwiteit of gebeurlikheid wat mense graag wil sien, besigtig, wil deelneem aan of by teenwoordig wil wees. In Geografie en omgewingsbestuur word die term hoofsaaklik gebruik in verband met pendelary, migrasie, toerisme, ekonomiese aktiwiteite en die verskaffing van dienste. Plekke mag aanloklik wees omdat hulle werksgeleenthede bied (byvoorbeeld Zimbabwiërs en Malawiërs wat in Suid-Afrika werk kom soek), of toegang tot belangrike religieuse rituele en aktiwiteite (soos die jaarlikse hajj pelgrimstog na Mekka), of pragtige goue strande soos in Durban, Kaapstad of Rio de Janeiro, of skouspelagtige watervalle (soos die Iguassú Valle tussen Brasilië en Argentinië of die Victoria-val tussen Zambië en Zimbabwe), en die reuse golwe vir branderplankryers (soos in Hawaii en by Bondy Beach in Australië). Sulke gewilde aanloklikhede skep menslike beweging en uit die bogenoemde voorbeelde is dit duidelik dat baie van hierdie beweging oor internasionale grense is. Politieke ooreenkomste wat onverhinderde beweging tussen verskillende lande moontlik maak sodat toeristebesienswaardighede van alle kante af beskou kan word, is lank reeds in plek. Min toeriste is eers daarvan bewus dat hulle die Brasiliaans-Argentiniese grens oorsteek in hulle besigtiging van die Iguassú-waterval! ’n Relatief nuwe en vinning-groeiende vorm van oorgrensbeweging van toeristegroepe om aanskoulike natuurlike verskynsels te besigtig, is deur politiese onderhandelinge en internasionale ooreenkomste geskep deur die daarstelling van oorgrens-natuurlewe en -natuurreservate. Suid-Afrika deel reeds sulke natuurreservate met Mosambiek, Zimbabwe, Botswana, Namibië en Lesotho. In hierdie parke en reservate is die fisiese grensheinings verwyder en ’n reisiger weet nie eers dat hy/sy ’n landsgrens oorgesteek het nie! Hierdie vorm van onverhinderde oorgrens-beweging van toeristegroepe om natuurverskynsels te besigtig, is deur middel van politieke bemiddeling bewerkstellig waaruit internasionale ooreenkomste voortgevloei het, maar ’n toeris moet tog in ag hou dat daar ’n onvermydelike politieke oorgrenskomponent in hierdie bewegings en aktiwiteite ingeweef is. (Kyk “refugee”.)