politieke onstabiliteit — Afrikaans

’n Toestand van onsekerheid oor die jurisdiksie of beheer oor ’n spesifieke, definieerbare gebied van die wêreld. Polities is die wêreld ruimtelik volgens afgebakende state of lande (kyk “demarcation”) dit wil sê politieke eenhede, georganiseer. ’n Staat is teoreties ’n onafhanklike (outonome), territoriale, politieke eenheid wat onder die uitsluitlike jurisdiksie van ’n erkende owerheid staan. (Let daarop om nie die verskillende state van die Verenigde State van Amerika met die VSA as ’n nasie te verwar nie.) Ideaal gesproke, is elke politieke eenheid onder die spesifieke jurisdiksie van ’n erkende outoriteit wat ’n enkel heerser (soos ’n koning, koningin, diktator of leier), of ’n heersende groep wat beheer oorgeneem het, of ’n demokraties verkose persoon en sy/haar party kan wees. Daar is egter soveel verskillende soorte regerings of jurisdiksies of vorme van beheer, dat dit dikwels byna onmoontlik is om die jurisdiksie of outoriteit in ’n spesifieke politieke eenheid te beskryf. Om sake te vererger, is die territoriums van die individuele politieke eenhede dikwels nie duidelik gedefinieer nie. Die geopolitiese kaart van die wêreld is ’n voorstelling van ’n vloeibare patroon van jurisdiksie wat deurentyd verander. Daar is talle grensdispute tussen die globale politieke eenhede, byvoorbeeld die grens tussen Noord-Korea en Suid-Korea waar die 38˚-breedtelyn tans as internasionale grens dien, met twee breë stroke niemandsland weerskante. Die grensdispute tussen Israel en Palestina is so kompleks dat dit nie in ’n paar sinne beskryf kan word nie. Baie ander voorbeelde kan genoem word, maar die pit daarvan is dat die globale geopolitiese ruimtelike patroon nooit ’n vaste werklikheid is nie. Elke geopolitiese kaart van die wêreld is waarskynlik verouderd die oomblik wat dit geteken is! Om die reeds ingewikkelde saak nog meer ingewikkeld te maak, is daar dikwels politiese onstuimigheid binne een en dieselfde politieke eenheid. In sommige lande verskuif die jurisdiksie elke nou en dan vanaf die een politieke faksie of party na die ander, of selfs van die een militêre faksie na die ander. Die realiteit daarvan is egter eenvoudig: politiese onstabiliteit sowel tussen as binne politieke eenhede is ’n absolute werklikheid. Afgesien van die probleme wat die gewone burgers van ’n land, staat, of streek moet trotseer, het politieke onstabiliteit ’n reuse uitwerking op die streeks- asook die nasionale ekonomiese aktiwiteite. Dit is voor die handliggend dat beleggers nie geredelik hulle geld in die vorm van buitelandse-direkte belegging (foreign direct investment [FDI]) in polities-onstabiele lande of streke gaan belê nie, want hulle kan hulle geld verloor in ’n politiese oorname. Politieke onstabiliteit is algemeen in Afrika, en buitelandse beleggers soos die Europese Gemenebes (EU), die VSA en China, die Wêreldbank (WB), die Internasionale Monitêre Fonds (IMF) asook die ware groot beleggers, naamlik die multinasionale maatskappye of korporasies (MNM’s), is huiwerig en traag om in ’n polities-onstabiele lande of streke (soos baie Afrika-state of die Midde-Ooste) te belê. Indien die ontwikkelende lande buitelandse belegging wil lok, moet hulle politieke stabiliteit toon wat die beleggers van winste eerder as verliese sal verseker.