polarisasie — Afrikaans
Verskillende partye wat dieselfde mening oor een of ander saak huldig, vorm gepolariseerde drukgroepe wat mekaar meer effektief kan opponeer. In enige vergadering van betrokke partye sal daar onvermydelik polarisasie plaasvind. Ongeag of dit ’n politiese, ekonomiese of omgewingsaangeleentheid is wat ter sake is, kan dit as ’n gegewe aanvaar word dat al die rolspelers nie dieselfde standpunt sal huldig nie. Elke party sal in die eerste plek poog om sy eie belange te beskerm. Daardie party sal by die groep aansluit wie se mening die mees versoenbare met sy eie mening is. Die vergadering sal onvermydelik gepolariseerd raak en twee of meer magsblokke sal teen mekaar tot stand kom. In die politiese en ekonomiese omgewings, kan formele ooreenkomste tussen partye wat dieselfde mening huldig, aangegaan word. Sommige van hierdie ooreenkomste kan baie jare bly bestaan en mag selfs oorloë, terrorisme en vyandige aggressie weerstaan. ’n Tipiese voorbeeld is die Geallieerde Magte wat in die Tweede Wêreldoorlog die Aksis State opponeer het, maar in hierdie geval het sekere van die alliansies ná die oorlog verskuif en nuwe vyandighede het te voorskyn getree en in ’n 40-jaar lange Koue Oorlog ontaard. Die Afrika Unie wat uit die Organisasie van Afrika-eenheid ontspring het, het oorleef ten spyte van ’n aantal oorloë tussen sekere lidlande, maar nie een van hierdie organisasies was ooit effektief om vrede en ontwikkeling in Afrika te bewerkstellig nie. Aangesien politiek en ekonomie dikwels verwikkeld is, is politieke en ekonomiese polarisasies dikwels ineengestrengel. Sommige outeurs beskou die wêreld as gepolariseerd tussen ’n ekonomies ontwikkelde groep en ’n ekonomies ontwikkelende (of onderontwikkelde) groep (kyk “economical development”, “developed North” en “developing states”). Deesdae is die mees prominente ekonomiese groeperings die Groep van Agt, die ontwikkelende state en die BRICS lande (kyk “economic development”, “developed countries” en “developing countries”). In die omgewingsfeer is polarisasie baie algemeen, maar hulle neig om losse, eie-belang-dienende en veranderlike groeperings te wees. Seker lande span saam gedurende een Cites-vergadering (kyk “environmental conventions”) en opponeer al die ander partye om toestemming te kry om hul voorrade van ivoor of renosterhoring van die hand te sit, maar by die volgende Cites-vergadering mag hulle heeltemal teen mekaar gepolariseer wees oor die een of ander vraagstuk. By die sogenaamde “Aarde-beraad” (kyk “environmental justice”) het die ontwikkelde en ontwikkelende lande mekaar energiek in nie-voorafbeplande omgewingspolarisasie oor omgewingsbewaring en lugbesoedeling gekonfronteer. Oor die algemeen is omgewingspolarisasies egter vloeibaar, opportunisties en vraagstukgebonde.