osoon — Afrikaans

Triatomiese suurstof (O3) wat in die bo-atmosfeer by omtrent 20-25 kilometers bo die Aarde se oppervlak gevorm word. (Let daarop dat die suurstof wat ons inasem, molekulêre suurstof, oftewel O2 is). Osoon word gevorm deurdat sommige suurstofmolekules dissosieer en die “los” (enkel) atome dan met normale suurstofmolekules verbind om triatomiese suurstof, oftewel osoon, te vorm. Benede die vlak waar die osoon gevorm word, versprei dit gaandeweg en daal stadig grondwaarts, en namate dit daal, verander die triatomiese osoon om weer molekulêre suurstof te vorm. Die osoon in die atmosfeer is uiters belangrik omdat dit geredelik ’n gedeelte van die ultra-violetstraling vanaf die son absorbeer en sodoende bereik baie van die ultraviolet-radiasie vanaf die son nooit die aardoppervlak nie. Osoon beskerm ons teen ’n oormatige blootstelling aan ultra-violetstrale wat velkanker en oogkatarakke kan veroorsaak. Gedurende die laat-1960’s en vroeë-1970’s het ons bespeur dat die osoonkonsentrasie in die hoër atmosfeer dramaties gedaal het. Aangesien menslike aktiwiteite op daardie tydstip besig was om reuse volumes chlorofluorokoolstowwe (CFK’s) in die atmosfeer vry te stel het, en ons geweet het dat CFK’s osoonmolekules dissosieer, het sekere wetenskaplikes dadelik tot die gevolgtrekking gekom dat antropogene (mens-veroorsaakte) lugbesoedeling vir die vermindering van die osoon verantwoordelik was. Met die besef dat die vermindering van osoon ernstige gevolge vir die mens en die omgewing inhou, is daar inderhaas in 1987 ’n internasionale konvensie (kyk “international convention”) in Montreal, Kanada, belê. Die Montreal Protokol is bekragtig, dadelik in werking gestel en die vrylating van CFC’s is onmiddellik verbied. Nog voordat al die bepalings van die Montreal Ooreenkoms geïmplementeer kon word, het die uitgedunde osoonlaag in die atmosfeer begin “herstel” en die osoonkonsentrasie in die atmosfeer het na normaal begin terugkeer. Sedertdien het ons uitgevind dat die osoonkonsentrasie in die atmosfeer verminder en vermeerder as gevolg van natuurlike oorsake wat nog hoegenaamd nie aan ons bekend is nie. Ons weet nie werklik hoeveel effek die bepalings van die Montreal Akkoord in werklikheid op die osoonlaag gehad het nie, maar ons het darem daarin geslaag om die vrystelling van CFK’s dramaties te verminder en ons het gesien mense dwarsoor die wêreld kán saamwerk om ’n gemene doel te bereik, wanneer die alternatief só ernstig sal wees dat die risiko bloot te groot is om dit te waag.