kernkrag, kernenergie — Afrikaans

In die 1950’s het kernenergie in die openbare bewussyn na vore gekom as ’n alternatiewe vorm van energie wat sowel skoon (dit wil sê, dit veroorsaak nie die lugbesoedeling wat met fossielbrandstowwe [kyk “fossil fuels” en “air pollution”] geassosieer is nie) as volhoubaar is, en die gebruik daarvan is – verkeerdelik – as goedkoop bestempel. (Hou ingedagte dat daar tydens die Tweede Wêreldoorlog [1939-1945] reuse vooruitgang gemaak is met die aanwending die kernenergie en dit het ná die oorlog voortgeduur. Teen die 1950’s was kernenergie eintlik ’n oplossing wat ’n probleem gesoek het.) Kernkragopwekkers gebruik uraan as roumateriaal. ’n Bitter klein hoeveelheid uraan word benodig om ’n reuse hoeveelheid energie op te wek. Dit het egter gou duidelik geword dat die konstruksie van kernkragaanlegte buitensporig duur is wanneer al die noodsaaklike veiligheidsmaatreëls ingereken word. Om van die radio-aktiewe afvalmateriaal ontslae te raak is uiters problematies en duur. Die noodsaaklike veiligheidsmaatreëls kos ’n fortuin, en die bekostigbare berging (stoor) van groot hoeveelhede opgewekte energie is steeds grootliks bokant ons tegnologiese vermoë. Vanweë die finansiële implikasies het slegs enkele van die meer welvarende ontwikkelde lande soos dié VSA, Kanada, Skandinawië, Frankryk, Rusland en sommige ander Wes-Europese lande asook Japan in die oprigting van kernkragsentrales belê. Die eerste ernstige waarskuwing dat sulke aanlegte ’n beduidende bedreiging vir sowel die plaaslike gemeenskappe (kyk “local communities”) as die omgewing kan inhou, was die Three Mile Island-insident in Pennsylvania, VSA, in 1979 toe radio-aktiewe stowwe per ongeluk in die onmiddellike omgewing van die aanleg vrygestel is. Die tweede sorgbarende insident was ’n tegnologiese faling en gedeeltelike smelting van die relatief oudmodiese Chernobyl-aanleg in die Ukraïne (toe nog deel van die eertydse USSR) in 1986. ’n Enorme hoeveelheid radio-aktiewe straling het uit die aanleg gelek en vinnig na ’n baie wyer gebied versprei. Die ondersoek ná hierdie insident het getoon dat die “ongeluk” meer as tien maal (10-maal) soveel radio-aktiwiteit vrygestel het as die atoombom wat aan die einde van die Tweede Wêreldoorlog die hele stad Hiroshima in Japan in puin gelê het. In 2011 het ’n seismiese insident weereens die gevaar verbonde aan kernkragstasies beklemtoon toe die Fukushima-aanleg in Japan as gevolg van ’n sterk aardbewing radio-aktiwiteit begin “lek” het. Eintlik was dit ’n uiters gevaarlike gebeurtenis, maar die hedendaagse tegnologie beskikbaar in ’n hoogs ontwikkelde land het die lekkasie redelik gou onder beheer gehad. Dit het egter die gevaar van sulke aanlegte in seismies-aktiewe gebiede dringend onder die loep geplaas. Indien ongelukke totaal voorkom kan word, die veilige wegdoening van die radio-aktiewe afval gewaarborg kan word, en die reusagtige bedrae om die kernkragsentales te bou, beskikbaar is, kan kern-energie moontlik wêreldwyd die verkose alternatief tot fossielbrandstowwe vir die opwekking van elektrisiteit word, maar ons is nog baie ver van daardie doelwit af.