vermenigvuldigingseffek — Afrikaans

’n Ekonomiese konsep wat basies beteken dat sukses aanleiding gee tot meer sukses. Een suksesvolle kleinhandelonderneming in ’n spesifieke gebied sal lei tot die vestiging van ander besighede en ondernemings in daardie gebied, ensovoorts. Een boer in ’n spesifieke gebied plant canola (waaruit kookolie onttrek word) in plaas van koring wat tradisioneel in daardie streek geplant is. Hy/sy verkry ’n baie goeie prys vir die canola en volgende jaar is daar ’n hele aantal boere wat canola plant en dan tree die vermenigvuldiging in volle werking en al die boere begin canola plant (soos wat in die Overberg-streek in Suid-Afrika gebeur het). Die koringproduksie het egter nou al so drasties afgeneem dat koring ingevoer moet word. Die terugvoerlusse (kyk “feedback loop”) in ’n ekonomiese sisteem sal verseker dat groei eksponensieel sal plaasvind. Saamgestelde rente is al dikwels “die agtste wonder van die wêreld” genoem en dit illustreer die vermenigvuldigingseffek perfek. Geld wat belê is verdien rente en aangesien daar dan ’n groter bedrag is, verdien dit nog meer rente. Nou begin die belegger rente op rente ontvang en sy/haar geld groei selfs vinniger en verdien nog meer rente. ’n Biljoenêr kan maklik nog ’n miljoen Rand maak en dit is waarom die rykste mense steeds ryker word en die armes steeds armer word. Dit is hoe ’n klassieke kapitalistiese, totaal vrye-mark ekonomiese sisteem werk. In so ’n sisteem neem industriële en ekonomiese groei eksponensieel eerder as geometries toe. Natuurlik kan dit nie verewig so aanhou nie, maar niemand weet wanneer die sisteem gaan ineenstort nie. In hierdie aspek tree natuurlike en mens-gemaakte sisteme eenders op. Eksponensiële groei in ’n natuurlike sisteem sal in die ineenstorting van die sisteem eindig, maar ons is nie in staat om te voorspel wanneer die ineenstorting gaan plaasvind nie.