moderniseringsparadigma — Afrikaans

’n Stel ekonomiese teorieë wat stateer dat dat tegnologiese ontwikkeling tot ekonomiese ontwikkeling, meer welvaart, laer bevolkingsgroeikoerse, hoër geletterdheid en onderwysvlakke, asook ’n hoër lewenskwaliteit sal lei. Die paradigma veronderstel dat meganisasie van die landbou en industriële bedrywe, die versterking van die sekondêre en tersiêre sektore van die ekonomie (deur middel van finansiële insentiewe), die beskikbaarheid van beter gesondheidsdienste, ’n hoër geletterheids- en onderwysvlak en ’n hoër per kapita finansiële welvaart van die bevolking, en ’n dalende bevolkingsgroeikoers almal verwikkel is in ’n netwerk van positiewe korrelasies. Dit is ’n konsep wat ongeveer 50 jaar oud is en daar was dus oorgenoeg tyd om die hipoteses wat die teorieë van die paradigma onderlê, te toets. Nogtans is daar tot dusver geen oortuigende bewys van die universele korrektheid van die onderskeie hipoteses gevind nie. In sekere lande is hierdie positiewe korrelasies wel gevind, maar in ander nie. In die meeste Afrika-state is niks om die teorieë te bewys, gevind nie. In die meeste van die sogenaamde BRICS-lande (kyk “economic development”) is sommige van die positiewe korrelasies wel gevind, maar hoofsaaklik binne sekere streke of gebiede (“pockets”) en nie in die land as geheel nie. Daar is soveel uitsonderings dat die paradigma nie as ’n universele waarheid aanvaar kan word nie. Om net een voorbeeld te noem wat die universele aanvaarding van die paradigma belemmer, kan ons die VSA beskou. Die modernisering en ekonomiese groei van die VSA het die paradigma redelik getrou onderskryf, maar die groeiende welvaart het gelei tot ’n onverwagte hoë bevolkingsgroeikoers as gevolg van immigrasie en dit is strydig met sekere teorieë in die paradigma. Nog ’n voorbeeld is dat die geboortekoers en bevolkingsgroeikoerse in die meeste Afrika-state hoog gebly het ten spyte van beter gesondheidsdienste. Die moderniseringsparadigma is belangrik want dit skep ’n raamwerk vir wetenskaplike denke en navorsing (dit wil sê, ’n paradigma), maar nie al die voorspellings wat op grond van die paradigma gemaak is, het korrek blyk te wees nie. (Kyk “economic development”, “human development index”, “economic growth”, “development”, “developed countries” en “developing countries”.)