metropolitaanse gebied — Afrikaans

’n Stedelike gebied onder die beheer van ’n plaaslike owerheid wat óf deur die mense wat daar woon (kyk “local communities”) verkies is, óf deur ’n hoër gesagsliggaam aangestel is. Die plaaslike owerheid beheer die gebied deur middel van ’n stel bywette of regulasies wat binne daardie spesifieke, afgebakende gebied (kyk “demarcation”) geldig is, maar nie buite die geografiese grense van die gebied geldig is nie. Wanneer die stedelike-landelike grens skerp en goed gedefinieer is, is dit voor die handliggend waar die jurisdiksie van die plaaslike owerheid begin en eindig, maar dikwels is stedelike en landelike gebiede nie duidelik van mekaar te onderskei nie en neig om oor ’n wye half-stedelike, half-landelike gebied van gemengde grondbenutting (kyk “land-use”) te vermeng en die nedersettingspatroon is dan redelik vaag. In alle gevalle behoort die jurisdiksiegebied van metropolitaanse owerhede duidelik gedefinieer te wees om ’n eindelose aantal dispute en plaaslike onsekerhede te ondervang. In Suid-Afrika, waar plaaslike owerhede verkose liggame is, is talle verskillende metropolitaanse gebiede ná die bewindsverandering in 1994, met mekaar versmelt om reuse metropolitaanse gebiede te vorm. Aanvanklik het dit tot heelwat onsekerhede vir sowel die inwoners as die owerhede gelei, maar baie van hierdie tandekryprobleme is sedertdien uitgeklaar.