akwakultuur — Afrikaans
Om te boer met waterplante en -diere. Dit sluit nie kommersiële visvangs in die oop oseaan in nie. Akwakultuur is die doelbewuste kweking en voeding van óf sout- óf varswaterorganismes totdat hulle die gewenste grootte bereik waarna hulle verkoop (bemark) word. Dit sluit ’n verskeidenheid visse, skilddiere (soos krewels en krappe), skulpdiere (soos mossels en oesters) en plante soos eetbare waterlelies (wat in Suid-Afrika as waterblommetjies bekend staan), seegras en ander plante wat verskeie medisinale eienskappe en landboukundige gebruike as bemestingstowwe het, in. Dit kan in mensgemaakte watermassas (damme) of in begrensde gedeeltes van bestaande sout- of varswaterliggame bedryf word. Varswaterspesies word hoofsaaklik in kunsmatige damme soos op die forelplase in die koeler dele van Mpumalanga en Lesotho gekweek. Oesters, mossels, krappe en krewels word meestal in afgebakende gedeeltes van vlak soutwatermassas soos in die oestermandjies in die Knysna-lagune gekweek. Akwakultuur is ’n besonder ou industrie. Dit dateer van vóór die Romeinse Ryk en word al honderde of selfs duisende jare lank in China, Indië, Japan, Suid-Oos Asië, Suid-Amerika en Europa beoefen. Die volume en die waarde van akwakultuurproduksie het ’n volgehoue toename sedert die 1950’s getoon, maar dit is twyfelagtig of dit ooit kommersiële visvangs as voedselbron sal vervang. Die teling van suiwer dekoratiewe koi-visse en die teling van oesters om gekultiveerde pêrels te vervaardig, word soms as akwakultuur geklassifiseer, en soms nie. Kreefteling is nie ’n akwakultuuraktiwiteit nie bloot omdat dit nog nooit suksesvol bemeester is nie en omdat krewe so stadig groei dat die landboukundige winsgewendheid daarvan betwyfel word.