wanvoeding — Afrikaans

’n Langtermyn menslike toestand waarin mense nie voldoende volumes (hoeveelhede) van al die noodsaaklike voedingstowwe wat die menslike liggaam benodig, inneem nie. Korrekte en voldoende voeding is van kritiese belang in kinders se vroeë lewensjare aangesien hulle dan ’n wye verskeidenheid voedingstowwe vir normale fisiologiese asook intellektuele ontwikkeling benodig. Anders as ondervoeding wat grootliks tot die ontwikkelende lande beperk is, kom wanvoeding in sowel ontwikkelende as ontwikkelde lande voor (kyk “development” en “developing countries”). In die ontwikkelende wêreld is die wye verskeidenheid van tradisionele voedingstowwe nie meer beskikbaar nie omdat die plante uitgeroei is as gevolg van oorbenutting deur ’n bevolking wat nou baie groter is as wat dit in die verlede was. Gevolglik eet die mense ’n meer beperkte dieet wat hoofsaaklik uit die koolhidraatryke stapelvoedingstowwe soos rys, mielies, aartappels, patats, kassawe of koring bestaan. In die byna vergete verlede sou hierdie mense se voorsate ’n baie wyer verskeidenheid voedingstowwe geëet het en ’n baie beter voedingstatus gehad het as wat hulle nakomelinge vandag het. Deesdae kenmerk ’n proteïen-tekort die diëte van biljoene mense dwarsoor die ontwikkelende wêreld. Afgesien van die onmiskenbare fisiese agterstand van wanvoede kinders, het hulle ook vertraagde intellektuele ontwikkeling. Hierdie mense het moontlik nooit hongergely en ’n ware hongersnood beleef nie, maar het nooit die ideale hoeveelhede proteïen, vitamiene, minerale en ander onontbeerlike komponente van ’n gebalanseerde dieet ingeneem nie. Voedingstoftekorte wat in ’n mens se vroeë kinderjare ervaar word, het ongelukkig onomkeerbare fisiese en intellektuele gevolge en dit kan nie later in ’n mens se lewe “ingehaal” word nie. Aan die ander kant van die voedingskontinuum lê die oorvoede, maar wanvoede, welvarende mense in sommige van die ontwikkelde lande. In hierdie lande word baie van die kinders groot op ’n uiters ongebalanseerde, ongesonde dieet en “gemorskos” (“junk food” en “wegneemkos”) maak ’n groot deel daarvan uit. Hulle dieet is ryk aan koolhidrate en proteïene, maar byna ontdaan van die noodsaaklike vitamiene en minerale. ’n Goeie voorbeeld is een van die gevolge van die Chinese een-kind-beleid. In 1979 het China ’n streng beleid dat elke getroude paar net een kind mag hê, ingestel. Afgesien van al die ander negatiewe gevolge van hierdie kortsigtige beleid (wat gelukkig nou opgehef is), het dit tot oorgewig by kinders gelei. Vetsug was nooit ’n eienskap van die Chinese bevolking nie, tot die kinders van die een-kind-beleid verskyn het. Hulle is letterlik “oorvoer” en alle moontlike lekkerny wat hulle wou hê, is in oorvloed aangebied. Terwyl ’n hongerdood biljoene mense in Afrika en Asië in die gesig staar, bedreig morbiede (dodelike) vetsug miljoene mense in die ontwikkelde wêreld. Uit sowel ’n humanitêre as ’n geografiese oogpunt is die verhongerdes en die vetsugtiges ewe sorgbarend. Lande waarin albei hierdie bevolkingseienskappe voorkom, het ’n uiters problematiese vraagstuk om op te los. Suid-Afrika is ’n uitstekende voorbeeld van só ’n land.