magnetiese deklinasie — Afrikaans

Die hoekafstand tussen die geografiese noordpool en die Aarde se magnetiese noordpool. Die magnetiese noordpool verskuif van ligging oor ’n relatief klein gedeelte van die aardbol, in ’n proses wat as “pooldwaling” bekend staan, maar die geografiese noordpool bly altyd op dieselfde plek. ’n Kompasnaald sal altyd na die magnetiese noordpool wys, nie die geografiese noordpool nie. Gevolglik moet ’n kompaspeiling “gekorrigeer” word om vas te stel waar ware noord is (kyk “bearing”). Om die korreksie te maak, moet jy weet wat die magnetiese deklinasie is. Om die probleem te kompliseer, is pooldwaling ’n relatief vinnige proses en die ligging van die magnetiese noordpool verander voortdurend. ’n Verdere komplikasie is dat die magnetiese deklinasie van plek tot plek verskil omdat die rigting na dié pool soos gemeet vanaf een punt op die aardoppervlak sal verskil van wat dit vanaf enige ander plek op die Aarde is. Gelukkig vertoon alle amptelike, gepubliseerde kaarte (soos die 1:50 000 topokadastrale reeks van Suid-Afrika) op die kaartgrens ’n klein diagram wat die deklinasie vanaf daardie gedeelte van die Aarde verstrek. Met hierdie inligting is dit maklik om vas te stel waar ware noord is (kyk “bearing”), maar sonder hierdie inligting kan ons nie vasstel waar ware noord is nie. Moderne navigasie-instrumente (soos ’n GPS) verskaf hierdie inligting, maar as jy êrens in die natuur verdwaal en net ’n kompas by jou het, sal jy slegs ’n algemene noordrigting kan bepaal, nie ’n presiese een nie.