makro-omgewing — Afrikaans

Die term verwys na ’n groot studiegebied wat so groot as die gehele Aarde mag wees. Wanneer die globale omgewing die studiegebied uitmaak, beteken dit dat data vanaf die hele wêreld die data vir die navorsing mag uitmaak. Geograwe bestudeer die omgewing op ’n groot (makro-skaal), medium skaal (meso-skaal) en klein mikro-skaal gebiede. Wanneer die fokus op die hele globale omgewing is, is dit ’n makro-skaal omgewingsondersoek. As gevolg van die grootte van die studiegebied is ’n sekere mate van veralgemening onafwendbaar aangesien dit eenvoudig onmoontlik is om data vanaf derduisende datapunte oral oor die Aarde in te samel. Gevolglik gebruik makro-omgewingsnavorsing soveel data-versamelingpunte as moontlik, maar dit is onvermydelik om swaar op veralgemening te steun. Wanneer daar op kleiner studiegebiede gefokus word, is minder veralgemening nodig omdat die data-insamelingspunte digter versprei kan word. Wanneer navorsing in ’n mikro-skaal studiegebied gekonsentreer word, kan dieselfde aantal datapunte ’n reusagtige hoeveelheid data oplewer en die analise behoort van ’n besonder hoë kwaliteit te wees. In sekere Geografie-spesialisasievelde (bv die geografie van gesondheid) is hierdie tipe data essensieel, omdat veralgemening onbetroubare resultate sal lewer. (Kyk “meta data”.)