ligging — Afrikaans

Die ligging van ’n verskynsel is die plek of punt op die Aarde waar dit geleë is of voorkom. Daar is verskeie maniere om die ligging van ’n plek te beskryf. Die algemeenste maniere is om óf die relatiewe óf die absolute ligging van die plek te verstrek. Met die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein as voorbeeld, kan ons die terrein se relatiewe ligging beskryf deur te sê dat dit in Gauteng, Suid-Afrika is. Dit is ’n uiters vae beskrywing van relatiewe ligging. Dit kan meer spesifiek gemaak word deur by te voeg dat dit ongeveer 35 kilometers noord-wes van Johannesburg is en maklik vanaf die N14-hoofweg bereik kan word. Met hierdie beskrywing, kan mense die terrein vind, maar die ligging kan nog meer spesifiek beskryf word deur die absolute ligging te verstrek. Die absolute ligging is die breedte- en lengteligging van die presiese punt of plek, uitgedruk in grade, minute en sekondes van breedtegraad en lengtegraad. Die absolute ligging van die Wieg van die Mensdom wêrelderfenisterrein is 25˚58’02” suid en 27˚39’45” oos. Deesdae word absolute ligging dikwels gebruik omdat motorvoertuie met globale posisioneringsisteme (GPS’e) toegerus is.