antroposentrisme — Afrikaans
’n Filosofiese standpunt dat mense die middelpunt van al ons aksies in en besluitneming oor die omgewing behoort te wees. Mense word gesien as belangriker as die natuur, en die natuur bestaan eintlik net om hulpbronne aan mense te voorsien. Dit word utilitêrianisme (of soms utilisme) genoem en dit beteken dat die enigste waarde wat die omgewing het, is dat dit ’n hulpbron vir die mensdom is. Die natuur het geen intrinsieke waarde nie en alle omgewingsbewaring, -beskerming, -beplanning en -bestuur is eintlik gemik op die volhoubaarheid en verbetering van menslike voortbestaan. Die meeste van die hoofstroom-omgewingsbestuursoogmerke en -teorië is gegrond in die ideaal om ’n goeie lewe aan die toekomstige geslagte te verseker. Mense word beskou as verantwoordelik vir die beskerming van die omgewing vir die welstand van die komende geslagte. Mense is dus verantwoordbaar aan die komende geslagte vir die kwaliteit van die omgewing wat hulle sal “erf”. ’n Antroposentriese uitgangspunt is reëlreg teenoor ’n omgewingsentriese uitgangspunt (kyk “ecocentrism”). In laasgenoemde het die natuur ’n intrinsieke waarde, dit wil sê ’n waarde om eie ontwil, en nie slegs ’n waarde vir wat dit aan die mens kan bied nie. Die omgewingsbestuur wat jy in hierdie Geografie- of Omgewingsbestuurkursusse gaan bestudeer, is gegrond in ’n antroposentriese filosofie. Omgewingsentriese strategieë het nog nooit werklik lewenskragtig genoeg geword om hoofstroom-etiese grondslae vir teorievorming en praktyk te vorm nie; dit is steeds die etiese denk- en doenwyse van die radikale aktiviste (dit wil sê, die rand-paradigmas). (Kyk “accountability” en “genetically manipulated organisms”.)