isolyn, isometriese lyn — Afrikaans

’n Lyn wat op ’n kaart geteken is om punte wat dieselfde waarde vir een of ander veranderlike binne ’n spesifieke studiegebied het, met mekaar te verbind. Die onderliggende aanname is dat alle punte op daardie lyn dieselfde waarde vir die spesifieke veranderlike het. Hoogte bo seevlak dien hier as ’n veranderlike vir verduideliking. Geen gebied op die Aarde se oppervlak is so plat en gelyk as ’n tafelblad nie; selfs die gelykste (“platste”) gebiede soos die Springbokvlakte op die grens tussen Gauteng en Limpopo Provinsie wat heeltemal plat en gelyk voorkom, is ongelyk en sekere dele is hoër bo seevlak as ander, al is die verskil in hoogte slegs ’n paar sentimeters. Landmeters gebruik navigasie-instrumente (wat deesdae baie gesofistikeerd is) om die hoogte bo seevlak van ’n klompie punte binne ’n spesifieke gebied te bepaal. Die hoogte bo seevlak van die prominente koppies of heuwels (wat as kolhoogtes bekend staan wanneer hulle op ’n kaart geplot is) asook dié van die punte wat opvallend laaggeleë is, sal altyd deur die landmeters bepaal (of gemeet) word, en verder sal hulle die gebied dek met soveel opgemete punte as wat hulle vir triangulasie en ander oogmerke benodig (of hulle begroting sal toelaat). Uit die veldwerk van die landmeters kan ’n kaart met ’n aantal punte waarvan die hoogte bo seevlak bekend is, saamgestel word, maar met behulp van hierdie kaart kan geen ruimtelike patroon bespeur of bestudeer word en geen driedimensionele visualisering van die gebied gedoen word nie. Tog is dít juis wat geograwe wil en moet doen. Indien isometriese of isolyne op hierdie kaart aangebring kan word, sal geografiese bestudering van die gebied moontlik wees. Wanneer hoogte bo seevlak die veranderlike is wat bestudeer word, sal die isolyne wat ingevoeg word, kontoerlyne wees en die kaart sal ’n kontoerkaart genoem word; isohiëte is lyne wat punte met dieselfde hoeveelheid reënval op ’n reënvalkaart met mekaar verbind; en isoterme verbind punte met dieselfde temperatuur op enige klimaatskaart; ensovoorts. Kontoerkaarte vorm die basiese werkskaarte in byna enige empiriese geografiese studie omdat geograwe ’n geoefende oog het en dadelik die gebied op ’n kontoerkaart in drie dimensies kan “lees”. Dit verg egter vernuf om ’n kaart met kolhoogtes na ’n kontoerkaart te omskep, met ander woorde om lyndata (liniêre data) uit puntdata af te lei. Dit vereis vaardigheid in die proses van interpolering, en dít is iets wat mens net aanleer deur menige ure se oefening. Tog doen ervare geograwe dit asof dit tweede natuur is! (Kyk “interpolation” en “spatial interpolation”).