tussenkomende geleentheid — Afrikaans

Die bestaan van ’n plek, entiteit, gebeurtenis of toestand wat die ruimtelike interaksie tussen twee plekke wat ’n sekere afstand van mekaar geleë is, beïnvloed. Interaksie word altyd deur die afstand tussen plekke beïnvloed en die algemene reël is dat interaksie omgekeerd eweredig aan die afstand tussen die plekke is. Die beginsel van afstandsverval stateer dat hoe verder twee plekke van mekaar geleë is, hoe minder interaksie sal daar tussen die twee plekke wees. Maar die invloed van afstandsverval tussen twee plekke kan grootliks beïnvloed word deur die bestaan van ’n aanloklike plek of entiteit tussen hulle. Só ’n plek word ’n tussenkomende geleentheid genoem en dit kan enige iets van ’n myn, dorp, wildtuin, kulturele of religieuse terrein, besonder bekoorlike natuurskoon of enige ander plek wat mense graag besoek of sakebelange in het, wees. Dit is ’n uiters belangrike beginsel in ekonomiese geografie en die geografie van toerisme omdat toeristebestemmings wat naby of tussen twee of meer belangrike stede geleë is, meer besoekers sal lok as een wat ver van al die hoof vervoernetwerke geleë is. In werklikheid is ’n tussenkomende terrein niks anders as net nog ’n lokaliteit naby aan ander bestaande sakesentrums of toeristebestemmings om sake te doen nie. Ontwikkelaars wat toeristebestemmings wil vestig, sou wys wees om lokaliteite te kies wat voordeel uit die nabyheid van ander besienswaardighede kan trek. Die Wieg van die Mensdom Wêrelderfenisterrein is baie voordelig in Gauteng naby sowel Pretoria as Johannesburg geleë, terwyl toeristebestemmings soos Dullstroom, Sabie en Graskop as tussenkomende geleenthede tussen Johannesburg (of Pretoria) en die Kruger Nasionale Park beskou kan word.