interpolasie — Afrikaans

In Geografie behels dit die invoeging van ’n regverdigbare waarde of ’n stel waardes tussen reeds bekende of akkuraat gemete waardes wat op ’n kaart geplot is. Dit is eintlik ’n proses van ingeligte raaiwerk. Geograwe neem al die reeds-bekende waardes, empiries vasgestelde metings en alle ander ruimtelike inligting oor die gekarteerde gebied in ag, en maak wetenskaplik verantwoordelike en verdedigbare beramings (of skattings) van en oor die ongemete en onmeetbare waardes. Interpolasie en beraming (estimasie) lê ten grondslag van alle ruimtelike navorsing. Hoewel interpolasie noodwendig ’n mate van veralgemening insluit, negeer dít hoegenaamd nie die resultate van ’n geografiese studie nie. Dit sou nie verkeerd wees om te sê “dít is wat geograwe doen” nie. Dit is egter nie al wat geograwe doen nie. Op grond van die resultate van ’n suksesvolle studie in een of meer studiegebiede kan daar voorspellings gemaak word of hipoteses gestel word oor wat in ander gebiede kan plaasvind of bestaan. Terwyl interpolasie veralgemening binne een studiegebied behels, kan die resultate moontlik na ander gebiede ge-ekstrapoleer word en voorspellings of insiggewende uitsprake kan dus oor ander, soortgelyke gebiede gemaak word (kyk “extrapolation”).