alternatiewe toerisme — Afrikaans

’n Besoek aan ’n plek of ’n gebied sonder om dit deur massaverbruik te degradeer en ’n oorweldigende massa ander toeriste te vermy. Om die twee ideale wat in hierdie definisie vervat is te bereik, het ’n alternatiewe tipe toerisme, bekend as “alternatiewe toerisme”, oor die afgelope 30 jaar ontwikkel. Om die eerste ideaal te bereik, moes sekere bestuurstappe gedoen word om te verhoed dat die meer sensitiewe en kwesbare toeristebesienswaardighede en -bestemmings deur ’n oormatige toestroming van toeriste degradeer word (kyk “carrying capacity”). Indien hierdie maatreëls nie getref is nie, sou die bestemming se sukses tot ’n vernietiging van die einste hulpbronbasis gelei het. Die tweede ideaal is bereik deur alternatiewe toeristebestemmings te ontwikkel. Hoewel baie mense dit geniet om massabestemmings soos Disneyland te besoek en glad nie gesteur voel oor die skare en lang rye toeriste nie, voel ’n beduidende aantal toeriste ongemaklik in groot menseskares en wil nie byna vertrap word deur massas jongelinge wat agter Mickey Mouse aanhardloop nie. Ontwikkelaars het besef dat daar ’n groot leemte in die toerismemark was en het begin om ’n verskeidenheid bestemmings vir die alternatiewe toeris te ontwikkel. Gevolglik is ’n magdom uiteenlopende lae-digtheid-bestemmings oor die afgelope drie dekades geskep. Op ’n toeriste-digtheidkontinuum sal alternatiewe toerisme baie ver van massa-toerisme geplaas word, maar op ’n digtheidkontinuum strek alternatiewe bestemmings van relatief lae-digthede tot by die mees eksklusiewe eko-bestemmings vir die enkeling of klein groepies soos ’n gesin. Alternatiewe toerisme sal nooit massa-toerisme vervang nie, maar dit het die toerismemark beduidend vergroot.