internasionale konvensies — Afrikaans
Streng gesproke verwys die term na groot, formele byeenkomste (of konferensies) van ’n groep state wat ’n gedeelde belang het. Hierdie belang kan polities, militaristies, ekonomies, ensovoorts wees, en vanaf die tweede helfte van die 1900’s het die omgewing een van die belangrikste gedeelde vraagstukke van alle nasies en state geword. Talle internasionale omgewingskonvensies het sedertdien plaasgevind. Die Verenigde Nasies (VN) speel natuurlik ’n groot rol in die organisering en befondsing van sulke konvensies. By hierdie geleenthede word nasies of state deur hooggeplaaste politieke en/of wetenskaplike afgevaardigdes verteenwoordig en hierdie afgevaardigdes het ’n mandaat om hulle onderskeie state se standpunte oor globale omgewingsvraagstukke te stel. Dikwels word die konvensies deur die staatshoofde self bygewoon, maar hulle word natuurlik deur ’n paneel wetenskaplikes en diplomate geadviseer. Kragtens die bevoegdheid waarmee die afgevaardigdes beklee is, is alle besluite wat geneem en bekragtig is (dit wil sê, ooreengekom en onderteken is), wetlik bindend op alle state wat dit bekragtig (onderteken) het. Sommige verteenwoordigde organisasies of state mag dalk besluit om nie die ooreenkomste te onderskryf nie, en hulle kan natuurlik nie verplig word om dit te doen nie. Omgewingsdrukgroepe, magsblokke (of aktiviste-groepe) en nie-regeringsorganisasies is gereeld met groot getalle afgevaardigdes op omgewingskonferensies teenwoordig, maar hulle stemreg is dikwels beperk en hulle bekragtiging van besluite is natuurlik nie bindend op enige staat nie. Omgewingskonvensies bied die drukgroepe en nie-regeringsorganisasies uiters belangrike forums vir drukuitoefening en die propagering van hulle standpunt oor die omgewingsvraagstukke waarmee hulle gemoeid is. Sommige van die welbekende omgewings-, ekonomiese, of politieke organisasies wat nooit ’n internasionale konvensie misloop nie, is Green Peace, die Internasionale Kern-insidentorganisasie (INEO), die Britse Instituut vir Standaarde (BSI), Earth Life Africa, die Europese Unie (EU), die Omgewingsbeskermingsagentskap van die VSA (EPA), die Organisasie vir Ekonomiese Samewerking en Ontwikkeling (OECD), die Internasionale Standaarde-organisasie (ISO), die Internasionale Komitee vir Bestralingsvoorkoming (ICRP), die Internasionale Maritieme-organisasie (IMO), die Groep van Sewe (of Agt) wat die grootste en sterkste ekonomieë in die wêreld insluit, die BRICS-lande (kyk “developing countries”), die Verenigde Nasies se Omgewingsbeskermingsagentskap (UNEP of UNEPA), UNESCO, die Verenigde Nasies se Konvensie vir die Wet van die See (UNCLOS), die Wêreld Handelsorganisasie (World Trade Organisation of WTO), die Wêreld Gesondheidsorganisasie (WHO of WGO), die Wêreld Natuurlewe Fonds (WWF), die Konvensie oor Internasionale Handel in Bedreigde Spesies (CITES), die Natuurlewe- en Omgewingvereniging van Suid-Arika (WESSA), en vele meer. Sommige van die bekendste internasionale omgewingskonvensies is die Stokholm-verklaring van 1972 waar daar besluit is dat alle state saam behoort te werk om internasionale wetgewing oor aanspreeklikheid en kompensasie vir omgewingsbesoedeling te ontwikkel; die Maastrich-verdrag en die Lomé-konvensie nommer I tot IV van die laat-1980’s waar daar gepoog is om groter internasionale samewerking oor omgewingregulasies te bevorder; die Ramsar-konvensie van 1971 om internasionale samewerking vir die beskerming van vleilande te bewerkstellig; die Montreal-protokol van 1987 waar die industriële gebruik van chlorofluorokoolstowwe (CFC’s) te verban; die Basel-konvensie van 1989 wat ’n poging was om die oorgrens vervoer van gevaarlike (veral radio-aktiewe) afvalmateriale te reguleer. Die opspraakwekkenste (en moontlik die grootste) internasionale omgewingskonvensie wat ooit gehou is, was die VN Konferensie oor Omgewing en Ontwikkeling (algemeen bekend as die “Aardeberaad”) wat in 1992 in Rio de Janeiro gehou is (kyk “environmental justice”). Die belangrikste resolusie wat op hierdie beraad goedgekeur is, is die Konvensie oor die Beskerming van Biodiversiteit wat later verfyn is en in ’n baie belangrike dokument, bekend as Agenda 21, vervat is. By die Aardeberaad het ernstige bespreking oor die beperking van die volumes koolstofdioksiedes en ander kweekhuisgasse wat elke jaar deur elke staat of groep van state in die atmosfeer vrygestel mag word. Min vordering is in 1992 in Rio gemaak omdat die arm, ontwikkelende state en die ryk, ontwikkelde lande nie tot enige ooreenkoms kon kom nie. Maar omdat hierdie ernstige kwessie toe aan die wêreld onthul is, kon dit nie weer vermy of onderdruk word nie. Dit het gelei na ’n konferensie in Kyoto, Japan, in 1997. Dáár is besluit dat elke afsonderlike staat toegelaat word om ’n spesifieke hoeveelheid lugbesoedeling in die vorm van ’n “koolstof-kwota” jaarliks aan die atmosfeer vry te stel. Sekere hoogs ontwikkelende ekonomieë soos die VSA, Australië, China en Indië, het nie die gestipuleerde koolstof-kwotas aanvaar nie, en het nie die konvensie se finale verslag onderteken nie. Die tiende herdenking van die Aardeberaad het in 2002 in Johannesburg plaasgevind, maar dit het nie eintlik enigiets noemenswaardig opgelewer nie, behalwe om te erken dat die toegekende koolstof-kwotas waarskynlik onrealisties was. Uit die bostaande lys is dit duidelik dat die term “konvensie” dikwels met terme soos “verdrag”, “beraad”, “ooreenkoms”, “kongres” of “protokol” vervang word. Dit lei soms tot verwarring. Dit is moontlik wys om die term “konvensie” te reserveer vir die werklike byeenkoms, debatvoering en besluitneming deur die rolspelers, terwyl die ander terme gebruik word om die rekord van ooreenkomste, of die verslag oor die besluitneming van ’n konvensie, te beskryf (kyk “international protocols”).