infiltrasievermoë — Afrikaans

Die maksimum koers waarteen water afwaarts in en deur die grondlaag perkoleer om later in die onderliggende gesteentelae in te sypel. Die koers word bepaal deur die vorm van die korrels (partikels) in die grond en die substratum. Ronde korrels – soos sandkorrels op ’n strand – het ’n hoë infiltrasievermoë omdat daar groot porieë tussen die korrels is. Indien die korrels hoekig is, is die infiltrasievermoë laer want daar is minder beskikbare porieruimte. Indien die korrels plat is soos in klei en slik, is daar baie min porieruimte en die infiltrasievermoë van die materiaal is dus baie laag. Die term word ook gebruik om die koers waarteen besoedelstowwe in ’n watervoorraad onder die aardoppervlak insyfer en die waterbron besoedel. (Die woord “infiltrasiekoers” word dikwels as sinoniem met infiltrasievermoë gebruik.)