Industriële Rewolusie — Afrikaans

Die reuse kulturele verandering toe hande-arbeid deur meganiese prosesse vervang is. Dit het in die middel van die 1700’s in Engeland begin en in die 1800’s na die (toe) Noord-Amerikas verskuif. Teen omtrent 1850–1860 was die (nou) Verenigde State van Amerika (ten spyte van – en as gevolg van – die Amerikaanse Burgeroorlog), die Verenigde Koninkryk, en sekere gebiede in Wes-Europa in die greep van die massiewe ommeswaai na industriële vervaardiging. Die industriële rewolusie het ’n onomkeerbare verandering in die wêreld en die globale ekosisteem te weeg gebring. Dit het die einde van die tydperk van plattelandse, plaaslike, onafhanklike, bestaans- en kleinskaalse kommersiële produksie, leefstyl en handgemaakte gereedskap in die (nou) ontwikkelde lande teweeggebring, en die afhanklikheid aan nie-hernubare fossielbrandstowwe en masjien-vervaardigde goedere in die grootste ekonomieë van die (nou) ontwikkelde wêreld veroorsaak. Die omgewing is ernstig beïnvloed deur die behoefte aan steenkool, olie en gas om die masjiene in die gesentraliseerde fabrieke in die industriële dorpe aan te dryf, en veral in daardie dorpe wat vinnig na groot stede verander het. In die (nou) ontwikkelde lande het mense van die platteland na die stede migreer om werk in die fabrieke te vind. Dít het tot ’n verandering van dienslewering gelei omdat hierdie pas-verstedelike mense behoefte aan godsdienstige, onderwys- en mediese dienste gehad het. Ongelukkig het sekere sorgbarende omgewingsvraagstukke soos lugbesoedeling, waterbesoedeling, afvalhantering, infrastruktuurkonstruksie, en vele meer, ook ontstaan. Om die beskikbaarheid van roumateriale vir die vervaardigingsbedryf te verseker, is die landelike gebiede ook deur groeiende mynbou, infrastruktuur, telekommunikasie netwerke, watervoorsiening aan die industriële stede, industriële uitskot wat die water en atmosfeer besoedel, suurreën, en vele meer beïnvloed. Die ontwikkelende lande is ook geraak, omdat baie van die roumateriale vanaf die (toe) onderontwikkelde lande verkry is.