verbranding — Afrikaans
’n Gekontroleerde verbrandingsproses om die volume en/of massa van afvalstowwe te verminder. Twee onderskeie tipes afval word gewoonlik verbrand, naamlik munisipale (huishoudelike) vaste-afvalstowwe en gevaarlike afval (kyk “hazardous waste”). Onthou dat die heel belangrikste reël van omgewingsbestuur is dat daar geen ware wegdoening is nie (“there is no away”) omdat nóg massa nóg energie vernietig kan word, en verbranding verminder eintlik net die volume van die afval, terwyl dit problematiese oorblyfsels soos hitte, gasse en as agterlaat wat steeds weggedoen moet word. Verbranding is ’n baie duur afvalverminderingsproses wat spesiale kundigheid, gespesialiseerde aanlegte, spesiale oonde, enorme hoeveelhede energie om die optimum-temperature te bereik, spesiale filters en harse om te verhoed dat giftige gasse in die atmosfeer vrygelaat word en gevaarlike lugbesoedeling veroorsaak, en spesiale fasiliteite vir die wegdoening van die oorblywende as, vereis. In baie ontwikkelde lande word die hitte van verbranding vir huishoudelike verhitting gebruik. As gevolg van ’n tekort aan die nodige kundigheid en die koste verbonde aan die proses word verbranding nie so dikwels in ontwikkelende lande gebruik nie. Afvalwegdoening is ’n spesialisgebied en dit word selde in totaliteit deur die omgewingsbestuurswetgewing van ’n land gedek. Selfs in Suid-Afrika met sy prysenswaardige omgewingsbestuurswetgewing, word gevaarlike afvalhantering deur afsonderlike, doelgemaakte wetgewing gedek.