MOI, menslike ontwikkelingsindeks — Afrikaans

’n Statistiese instrument wat deur die Verenigde Nasies (VN) gebruik word om die vlak van menslike welstand van ’n gemeenskap of ’n spesifieke groep mense in ’n afgebakende of definieerbare gebied, soos ’n stad, streek, land of staat (maar selde ’n hele kontinent, behalwe in die geval van Australië wat ’n kontinent asook ’n land is) te beskryf. Hierdie indeks stel ons in staat om ’n enkel syfer (tussen 0 en 1) te bereken wat die lewenskwaliteit, eerder as die lewenstandaard) van ’n groep mense beskryf. Verskeie menslike en bevolkingsattribute, of -eienskappe, of meetbare beskrywende norme kan gebruik word om die welstandsvlak van ’n bevolking te beskryf. Die VN se MOI gebruik kulturele ontwikkelingskriteria, sosiale welstandskriteria asook ekonomiese kriteria. Attribute soos lewensverwagting by geboorte, kindermortaliteit (kindersterfte), per kapita-inkomste, bruto binnelandse produk (BBP), politieke regte, verteenwoordiging in besluitneming en bestuur, vryheid van spraak, en vele ander kriteria kan gebruik word om ’n enkel syfer, naamlik die menslike ontwikkelingsindeks, te bereken. Die VN het dit egter gestandaardiseer en gebruik drie spesifieke veranderlikes om ’n menslike ontwikkelingsineks (die MOI) vir elke land te bereken. Hierdie veranderlikes is: gemiddelde lewensverwagting by geboorte, volwasse geletterdheidsvlak (gemeet aan die gemiddelde aantal jare formele skoling), en bruto binnelandse produk per kapita (per persoon) omgeskakel na koopkrag per Amerikaanse doller. Die VN Ontwikkelingsprogram hersien jaarliks die gepubliseerde MOI’e vir elke land. Die VN se gepubliseerde MOI’e sluit geen politieke kriteria, soos individuele vryheid en menseregte in nie.