hiërargiese diffusie — Afrikaans

’n Proses waardeur ’n tasbare (fisiese) of nie-tasbare entiteit se ruimtelike verspreiding en voorkoms vanaf ’n groot, invloedryke plek na kleiner, minder invloedryke plekke en uiteindelik na elke klein plekkie enige plek op Aarde kan uitbrei. ’n Hiërargie is ’n rangorde waarin items of plekke volgens grootte, invloed of gewildheid of selfs volgens die voorkoms van ’n negatiewe eienskap (attribuut) soos verslaafheid aan verdowingsmiddels of die aantal moorde wat gepleeg word, georden word. Nuwe dinge neig om vanaf groot, invloedryke plekke na klein, afgeleë plekke te versprei. Dit beteken dat dit van die top van die hiërargie na die onderste gedeelte van die hiërargie sprei. ’n Nuwe mode (soos om swart naelpolitoer te dra) of ’n nuwe tipe musiek kan in New York ontstaan, maar dit sal gou na ander stede in die VSA en dan na Londen en ander groot stede oral in die wêreld en uiteindelik na elke klein plekkie op Aarde versprei. Die gebruik van selfone in Suid-Afrika is ’n interessante voorbeeld van hiërargiese diffusie waarin groot, toonaangewende kommunikasiemaatskappye vanweë aanvraag gedwing was om hulle fisiese netwerke na afgeleë plekke uit te brei sodat mense in die stede asook dié in die afgeleë landelike gebiede en selfs in afgesonderde wildernisgebiede selfone kan gebruik. Die diffusie van die gewildheid van die internet se sosiale netwerke soos Facebook en Twitter het nie hiërargies plaasgevind nie, maar die diffusie van die fisiese satellietdatareseptors het wel hiërargies geskied.