gevaarlike afval — Afrikaans
Die ongewenste oorblyfsels en byprodukte van industriële en mynbouprosesse, petrochemiese produksie, mediese prosedures, militêre operasies, en kern-aanwendings. Hierdie afvalmateriale kan nie soos gewone huishoudelike afval en tuinrommel hanteer word nie omdat dit ’n toksiese (giftige), vlambare, plofbare, kontaminerings- of aansteeklikheidsgevaar vir die plaaslike omgewing en/of die plaaslike en aanliggende gemeenskappe inhou. Gevaarlike afval sluit enige iets in wat potensieel die plaaslike of nabygeleë omgewing kan benadeel en die welstand van die mense wat binne die onmiddellike omgewing woon, negatief kan impakteer. Gevaarlike afval kan nie soos ander afval in afvalhope weggedoen word of eenvoudig verbrand (kyk “incineration”) word nie. Daar bestaan streng protokols (voorgeskrewe prosedures) vir die wegdoening van elke tipe gevaarlike afval en hierdie voorskrifte moet presies nagekom word. Spesialis-afvalverwyderingsmaatskappye verrig hierdie taak en tref goeie voorsorg dat sowel die omgewing as die werkers en die publiek nie gekontamineer of op enige wyse in gevaar gestel word nie. In sekere ontwikkelde lande word huishoudelike afvalhantering volgens steng regulasies hanteer en die publiek maak seker dat hulle potensieel gevaarlike stowwe (soos verouderde medisyne, inspuitnaalde, huishoudelike insekdoders, die leë houers vir knaagdier- en plaagweerders en alle houers wat gifstowwe of gevaarlike medisyne bevat het) op die korrekte wyse wegdoen, want die boetes vir oortreding is besonder hoog. In ontwikkelende lande soos Suid-Afrika is afvalwegdoening baie meer lukraak. Hoewel die nodige wette en regulasies in plek mag wees, word hulle selde afgedwing. Gevolglik word mediese afval in gewone vullishope en stortingsterreine gevind waar plakkersgemeenskappe bo-op die afval woon, terwyl die myne suurafval wat arseen en radio-aktiewe stowwe bevat, in riviersisteme vrylaat en die ondergrondse water daarmee besoedel.