vergroeningspolitiek — Afrikaans

Die ware of geveinsde besorgdheid van politici en politieke partye oor die omgewing en omgewingsvraagstukke. Sedert die ontstaan van die wêreldwye Omgewingsbeweging in die 1960’s, het omgewingsgesindheid (kyk “ecocentrism”, “ecological citizenship” en “environmental movements”) die aandag en verbeelding van gewone mense, wetenskaplikes uit ’n verskeidenheid dissiplines, asook ’n magdom van geïnteresseerdes en aksiegroepe geword. Namate omgewingsbesorgdheid meer momentum gekry het, het politici gou besef dat daar stemme te wen was indien omgewingsake openlik ondersteun word. Sekere politici, soos Al Gore, ’n voormalige kandidaat vir die Presidentskap van die VSA, en voormalige VSA-Presidente Jimmy Carter en Bill Clinton, het ware kampvegters vir die omgewing geword. In alle ontwikkelde en demokratiese lande is daar deesdae relatief sterk omgewingsdrukgroepe. Deesdae is omgewingsbesorgdheid ’n sentrale tema in die beleide van die meeste politieke partye in ontwikkelde, demokratiese state. In sommige lande (veral in Wes-Europa) is daar nou politieke partye wat die omgewing as die sentrale fokus van al hulle beleide het. Hierdie partye is die sogenaamde “groenpartye” en in sommige lande het hulle reeds ’n beduidende verteenwoordiging in hulle onderskeie parlemente of plaaslike owerheidsliggame. “Groen”-vraagstukke (omgewingsvraagstukke) het dus ’n integrale deel van die hoofstroom-politiek geword en is nie meer uitsluitlik die domein van nie-regeringsliggame en aktivistegroepe soos Greenpeace en Earth Life Africa nie. ’n Verwante term is “groensmering” (’n beledigende term) wat verwys na ’n oppervlakkige, geveinsde inkorporering van omgewingsvriendelike beleide in die politieke retoriek van politieke pratye, die praktyke en aksies van industrië en maatskappye, sonder dat hulle enige ware voorneme het om in die toekoms meer omgewingsvriendelik op te tree as in die verlede. Hierdie partye en organisasies sê dus al die gepaste goed, maar doen niks beduidend om hulle ekologiese voetspoor (kyk “ecological footprint”) te laat krimp of te verlig nie. ’n Hele aantal groot, gesaghebbende, invloedryke Suid-Afrikaanse firmas kan hier as voorbeelde genoem word, maar om onaangename reperkussies te vermy, word dit aan jou eie – nou ingeligte – oordeel oorgelaat om self hierdie “groensmeerders” te identifiseer.