beheer en bestuur — Afrikaans

Die aksies en wyses waardeur ’n regering óf ’n aangewese owerheidspersoon óf -liggaam hulle opgelegde verantwoordelikheid uitoefen deur die aktiwiteite en aksies van ’n spesifieke groep mense of ’n sektor van die publiek, te beheer en te kontroleer. Met ander woorde, dit is die wyse waarop beleide of besluite van die regering van die dag uitgevoer, gekontroleer, afgedwing en gemoniteer word. Ontduiking van aanspreeklikheid en oordra van verantwoordelikheid (“passing the buck”) is ’n algemene verskynsel as omgewingsvraagstukke ter sake is. Hoewel ’n wêrelderfenisterrein soos die Wieg van die Mensdom in die finale ontleding teoreties onder die jurisdiksie en aanspreeklikheid van ’n sekere agentskap van die VN ressorteer (in die geval van ’n wêrelderfenisgebied is die hoogste outoriteit UNESCO), is die alledaagse beheer en bestuur van die terrein aan die Suid-Afrikaanse nasionale en plaaslike owerhede gedelegeer, naamlik die nasionale of provinsiale departemente van die omgewing, wetenskap, tegnologie, toerisme en kultuur, wat weer die uitvoering van besluite na die plaaslike (munisipale) owerhede en selfs aan die plaaslike gemeenskapsleiers en die gemeenskappe self oordra. Gevolglik is die sentrale regering selde direk betrokke by die omgewings-, paleontologiese en argeologiese bewaringsake en die dag-tot-dag-bestuur van die verklaarde terrein. Uiteindelik moet iemand of een of ander liggaam egter die aanspreeklikheid aanvaar. In die verduideliking hierbo, is omgewingsbestuur as voorbeeld gebruik, maar min of meer dieselfde geld vir enige aspek van die lewe, byvoorbeeld gesondheid, onderwys, sport, behuising, verdediging, sosiale dienste, ensovoorts.