globalisering — Afrikaans
Die term is selfverklarend daarin dat dit aandui dat sekere verskynsels en aktwiteite die wêreld as een plek beskou. Die belangrikste globaliserende faktore is ekonomie en handel, en tegnologiese ontwikkelings wat wêreldwye menslike interaksie vergemaklik en vermeerder. Sedert die laat-19de eeu is nuwe vervoertegnologie besig om die wêreld tot een globale entiteit te verander. Oorspronklik het die groot internasionale maatskappye sterk handelsbande met verskeie lande aangeknoop en sodoende het hulle multinasionale maatskappye (MNM’s) met takke dwarsoor die wêreld geword. Vandag is beroemde handelsmerke soos Macdonalds ewe tuis in Moskou as in New York. Reistyd tussen enige twee plekke op Aarde het so “gekrimp” dat ’n mens byna enige plek op Aarde binne ’n paar uur kan bereik. Natuurlik het die wêreld nie regtig gekrimp nie, maar vervoertegnologie het dramaties verbeter. Jules Verne se beroemde 1873-roman Around the World in 80 Days kan nou “om die wêreld in 8 dae” of selfs (met gedetermineerdheid) 80 uur word! Die internet speel ’n enorme rol in die globalisering van die wêreld en het onontbeerlik vir wêreldwye internasionale kommunikasie en interkonnektiwiteit geword. Dit is belangrik om daarop te let dat tydens die ineenstorting van die groot politieke entiteite soos die Britse en Franse imperiale ryke en die Russiese Sowjet-unie (USSR), was globale interaksie besig om uit te brei en te verbeter, sodat die mense in hierdie eertydse politieke entiteite deesdae hegter gekonnekteer is as voorheen. Kulturele en sosiale globalisering het kort op die hakke van ekonomiese globalisering gevolg en het reeds die groot politiese unifikasies vervang. Die Amerikaanse blou denimbroek (“blue jeans”) het wêreldwyd (behalwe in China en Indië) die standaard straatdrag geword en byna almal in die wêreld weet wie James Bond is. Globalisering het ’n dink- en doen-raamwerk geword en die paradigma dat “die wêreld plat is”, het reeds ’n reuse literatuur opgelewer.